Johan Powell, raadslid van die Vryheidsfront Plus vir die Mangaung-metro, het gesê dat die VF Plus gekant is teen die inlywing van die Naledi-munisipaliteit by die Mangaung-metro. Naledi bestaan uit die dorpe Dewetsdorp, Wepener en Vanstadensrus.
Die vergadering wat op 14 Mei 2015 gehou is om die publiek se insette oor die voorgestelde inlywing van Naledi te verkry, was ‘n totale mislukking. Slegs ‘n aantal raadslede en twee lede van die publiek het daarvoor opgedaag. Die Munisipale Afbakeningsraad het geskitter in hulle afwesigheid. Die ongeldigheid van die proses word deur hierdie optrede beklemtoon. Die persepsie bestaan dat die besluit klaar geneem is om Naledi by die metro in te lyf ongeag die inwoners se insette.
Daar is reeds besluit dat Soutpan, Ikgomotseng en Glen se plaaswyk ook by die metro ingelyf moet word. Hierdie gebiede was voorheen deel van die Masilonyana-munisipaliteit.
Powell sê dat voor die inlywing van hierdie gebiede by die metro, die metro alreeds gesukkel het om die nodige dienste aan die inwoners te lewer. ‘n Sprekende voorbeeld is dat die uitwissing van die emmerstelsel reeds jare gelede afgehandel moes wees. Weens ‘n gebrek aan fondse gaan dit egter nog jare duur voordat hierdie projek voltooi is. Die inlywing van Soutpan, Ikgomotseng en die Glengebied plaas groter druk op die metro omdat hierdie gebiede grootliks uit werkloses en armlastiges bestaan. Dit beteken dat die metro weinig inkomste uit daardie gebiede gaan verkry, maar dat dit geweldige druk op hulle uitgawes gaan plaas. Voor hierdie bykomende las het die metro gesukkel om finansieel kop bo water te hou.
Met die beoogde inlywing van Naledi gaan presies dieselfde gebeur. Die inkomste van die metro gaan byna onveranderd bly terwyl die uitgawes geweldig gaan toeneem. Die klein groepie belastingbetalers van die metro sal weereens die massas moet subsidieer wat nie kan en wil betaal vir dienste nie.
Powell sê dat die VF Plus absoluut gekant is teen groter munisipaliteite. Die verlede het bewys dat kleiner munisipaliteite baie beter dienste lewer en meer volhoubaar is as groter munisipaliteite. Die VF Plus doen dus ‘n dringende beroep op alle belanghebbendes om nie voort te gaan met die beoogde inlywing van Naledi by die Mangaung-metro nie. Dit is in die beste belang van die inwoners van Naledi, sowel as die inwoners van die metro.
JOHAN POWELL
(083 264 2741)