Wouter Wessels, VF Plus-LPW in die Vrystaatse Wetgewer, het in die debat oor die provinsiale openingsrede gesê die ANC-regering voer debat opgrond van ideologië wat nie verband hou met die huidige realiteite nie.
Die premier het weereens die skuld vir die meeste probleme in die Vrystaat op ander afgeskuif. Hy het geen konkrete uitsprake gemaak oor kostebesparingsmaatreëls nie, eerder die teenoorgestelde.
Wessels het in sy toespraak gesê dat 90% van grondhervormingsprojekte in Suid-Afrika misluk en dat dit nie as gevolg van die vrywillige koper/vrywillige verkoper beginsel is soos wat die premier gesê het nie. Grondbesit beteken nie outomaties rykdom nie en ondeurdagte, gefaalde grondhervorming lei slegs tot werkloosheid en nie tot welstand nie.
Hy het gesê hy beny die premier se utopië waarin hy leef. ‘n Utopië waarin daar geen werklike probleme is nie en sekerlik niks wat nie deur ‘n indaba, kongres of vertoning opgelos kan word nie. Een waarin daar nie honger, werklose, vuisvoos verbruikers woon nie. Een waarin meer as R2 miljoen eerder op ‘n openingsrede spandeer kan word.
Die premier het geen melding gemaak van die ernstige probleme in die Vrystaat nie. Hy het eerder in ‘n provinsie wat sedert die vorige finansiële jaar 68 000 werksgeleenthede verloor het, planne beraam vir luukshede soos om studente op toere van apartheidsbakens in die buiteland te neem en standbeelde op te rig.
Dit is die VF Plus se standpunt dat die premier verantwoordbaarheid op alle vlakke van regering in die Vrystaat moes eis. Hy moes lei deur voorbeeld deur kostebesparingsmaatreëls in te stel, te erken dat daar groot probleme is en dit aan te spreek – hy het ver tekort geskiet. Wessels het gesê dat samewerking belangrik is om die provinsie vooruitstrewend te maak.
Samewerking met die privaatsektor is uiters belangrik vir werkskepping. Die privaatsektor onttrek egter uit die Vrystaat as gevolg van patetiese dienslewering.
Die ANC skep nie ‘n omgewing vir vooruitgang en voorspoed vir die mense van die Vrystaat nie. Die Vrystaat is nie die utopië wat die premier wil voorgee dit is nie. Dit is ‘n gebreekte provinsie wat slegs sal herstel wanneer die regering sy foute en die foute in munisipaliteite en ander vlakke van plaaslike regering erken en daadwerklik begin optree.
Kontakbesonderhede: 082 674 6670