Die VF Plus sal nie rus totdat die regering daadwerklik optree om mense op plase te beskerm nie, het Gerda Senekal, VF Plus-raadslid in Emfuleni, gesê nadat sy mev. Nicci Simpson (64) in haar hospitaalbed in Vereeniging besoek het.
Die aanval op mev. Simpson het geweldige reaksie uitgelok weens die absolute brutaliteit van die aanval. Sy is ure lank gemartel waartydens haar voete met ‘n elektriese boor deurboor is. Haar honde is ook in die proses doodgeskiet.
Dié aanval het plaasgevind kort nadat die VF Plus se nasionale leier, dr. Pieter Groenewald, die parlementêre speaker oortuig het om ‘n debat oor plaasaanvalle in die parlement toe te laat.
Rdl. Senekal was hewig ontsteld na die besoek en het mev. Simpson, wat weerloos in die aanval was, sterkte en ‘n spoedige herstel toegewens.
“Die VF Plus is sedert die nuwe bedeling die enigste politieke party in Suid-Afrika wat homself sterk en in die openbaar teen plaasaanvalle uitgespreek het. Dié party sal ook nie ophou om sy stem dik te maak nie,” het sy gesê.
emfuleni@vfplus.org.za
(016) 931-0925
076 616 2124