Meer as 150 vrywilligers van verskillende organisasies het op Saterdag, 15 November, byeengekom vir die eerste fase van die restourasie van die gedenkterrein ter nagedagtenis aan diegene wat in 1922 tydens ‘n mynbou-staking aan die Witwatersrand hul lewe verloor het.
Dit is die eerste keer in bykans twee dekades dat dié terrein, wat as ‘n graad IIIA-munisipale/plaaslike gedenkterrein geklassifiseer is, in sy geheel weer begaanbaar is.
Die VF Plus het leiding geneem met die herstelproses wat uit vier fases bestaan.
Die eerste fase het hoofsaaklik die skoonmaak van die terrein behels om aan historici ‘n duideliker beeld te verskaf van die toestand daarvan en om hulle in staat te stel om ‘n duidelike restourasieplan op te stel.
In die volgende fases sal ‘n geskiedkundige en tegniese beoordeling gedoen word en vir die nodige permitte aansoek gedoen word.
Die werklike restourasieproses, in samewerking met die FAK, sal ook eers kan begin nadat die Suid-Afrikaanse Erfenishulpbronagentskap (SAHRA) die volledige beplanning daarvoor goedgekeur het.
Hoewel slegs die eerste fase van die restourasieproses nou afgehandel is, is die boodskap duidelik dat die gemeenskap omgee en dat die inwoners hul erfenis sal beskerm.
Die VF Plus sal voortgaan om ‘n leidende en koördinerende rol te speel om toe te sien dat dié gedenkterrein, wat mynwerkers en wetstoepassers eer wat hul lewe tydens dié bloedige staking verloor het, tot sy volle glorie herstel word.
Met dié aksie wys die VF plus nie sy steun aan enige party in die geskil van 1922 nie, maar erken daarmee dat die geskiedenis belangrik is en dat dié gebeure bygedra het tot die vorming van die politieke landskap van vandag.
Die gemeenskap van Brakpan het met hul optrede die afgelope naweek getoon dat eenheid, trots en diens die vergete erfenis kan laat herleef sodat dit vir komende geslagte bewaar kan word.


