President Cyril Ramaphosa se jeugbemagtigingsnetwerk, Yes4Youth, is blatante rassediskriminasie teen jong werklose wit Suid-Afrikaners en die VF Plus het by die Menseregtekommissie (MRK) ‘n klag van diskriminasie ingedien rakende die program wat jong wittes bloot op grond van hul velkleur uitsluit. Die program help jong mense om werk te kry.
Wit-aansoekers kry ‘n boodskap wat lui: “Jammer, Yes (4Youth) is slegs beskikbaar vir Swart, Indiër of Bruin Suid-Afrikaners.” Die skakel na die webblad: https://www.yes4youth.co.za/for-youth/ . (Foto onderaan mediaverklaring)
Werkloosheid in Suid-Afrika is ‘n realiteit vir alle jongmense. Jong wit Suid-Afrikaners word egter méér benadeel deur regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtigingsbeleide. Gekwalifiseerde wittes kry eenvoudig nie toegang tot die arbeidsmark nie, bloot omdat hulle velkleur nie reg is nie.
Dit is nie nasiebou nie. Dit is blatante polarisering in ‘n land waar rassespanning reeds onaanvaarbaar hoog is.
Deur hierdie optrede word daar effektiewelik aan wit jeugdiges gesê hulle is nie welkom in die land nie. Die VF Plus-jeug ag dit as niks anders nie as rassediskriminasie teen jeugdiges van ‘n minderheidsgroep wat sukkel om werk te kry.
Werkloosheid in Suid-Afrika gaan nie oornag verbeter nie, veral nie as geleenthede net vir sekere rassegroepe gegun word nie.
Werkloosheid, veral onder jong mense, het die afgelope 24 jaar onder die ANC-regering hand oor hand toegeneem en diskriminasie teen minderhede neem op dieselfde wyse toe.
Jeugdiges wat tans die werksmag betree, is die sogenaamde Born Free-generasie wat ná 1994 gebore is, wat onder 'n ANC-regering grootgeword en 'n ANC-kurrikulum op skool gevolg het. Waarom moet daar steeds teen hierdie jong werklose wit Suid-Afrikaners en ander minderhede gediskrimineer word?
Die VF Plus-jeug sal aanhou om teen diskriminasie in Suid-Afrika op te staan en terug te slaan. Die tyd het aangebreek dat ons jong mense met die 2019-verkiesing hul kruisies trek agter die VF Plus wat verbind is tot gelyke behandeling en geleenthede vir almal.
Die VF Plus se klag by die MRK is die eerste tree teen Yes4Youth se diskriminasie en daar sal binnekort nog stappe bekendgemaak word.
Kontaknommers: 082 490 6663