Die VF Plus verwelkom Mpumalanga se LUR van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), Busisiwe Shiba, se besluit om die finansiële aangeleenthede van die Emalahleni-plaaslike munisipaliteit (Kriel, Ogies, Phola, eMalahleni/Witbank) te ondersoek.
Die party het egter bedenkinge oor dié ondersoek ingevolge Artikel 106 van die Munisipale Stelselswet aangesien soortgelyke ondersoeke voorheen in die Lekwa-plaaslike munisipaliteit ( Morgenzon, Standerton) na 'n wyse gelyk het vir die onderskeie ANC-faksies om punte teen mekaar aan te teken.
Die ondersoeke in Lekwa is reeds in 2018 afgehandel, maar teen middel Junie 2020 is die verslag nog nie in die provinsiale wetgewer bespreek nie en geen stappe is geneem nie.
Die VF Plus is van mening dat dié ondersoeke wel moet plaasvind; maar om die regte redes waar korrupsie-oortreders behoorlik vervolg word en nie bloot as 'n wyse om die publiek te mislei om vir die komende verkiesing stemme te werf nie.
'n Goeie voorbeeld is die feit dat die premier, me. Refilwe Mtsweni-Tsipane, twee keer melding gemaak het van die belangrikheid van leefstyl-oudits op vermeende oortreders in die provinsiale regering terwyl dit bloot nie gedoen word nie.
Kiesers in Mpumalanga moet die ANC aan sy optrede oordeel en in die komende verkiesing saam met die VF Plus opstaan om die ANC by die stembus vir swak regering én dienslewering te straf.


