fbpx
Vryheidsfront Plus

VF Plus-mosie oor ongerehabiliteerde myne in Mpumalanga in wetgewer aanvaar (Debat in Mpumalanga-wetgewer)

Die VF Plus se kommer oor ongerehabiliteerde myne in Mpumalanga en die gevaar wat dit vir die omgewing inhou, is gister deur alle partye tydens 'n debat in die provinsiale wetgewer gedeel.

Die VF Plus het 'n dringende debat oor die kwelpunt aangevra en die aanvaarding daarvan is ’n belangrike stap om die erns van die situasie te erken.

Die ANC-regering het prontuit erken dat dit 'n plaaslike gesondheidskrisis is, terwyl beide die EEF en DA saamgestem het daar moet dringend ingegryp word.

Alhoewel Mpumalanga sowat 800 verlate steenkoolmyne en meer as 230 aktiewe myne het, is slegs ses van die 445 sluitingsertifikate, wat bewys dat die rehabilitasie tot die regering se bevrediging gedoen is, teen einde 2019 aan mynmaatskappye in die provinsie uitgereik.

Daar is geen nuwer inligting beskikbaar nie aangesien rekordhouding nie korrek gedoen word nie.

Die ANC-regering het byna niks gedoen om die giftige nalatenskap van steenkoolmynbou aan te spreek nie.

Die regering moet nou seker maak dat mynmaatskappye wat voordeel getrek het uit jare se steenkoolontginning, nie hul verantwoordelikhede ontwyk om die lewensgevaarlike afval wat hulle agtergelaat het, op te ruim nie.

In 2016 het twee tieners verdrink in 'n verlate oopmynskag in Ermelo in die Msukaligwa-plaaslike munisipaliteit.

Mynaktiwiteite deur Imbabala Coal (Pty) Ltd is vyf jaar tevore gestaak toe die departement van minerale bronne en energie bevind het hy het nie die vereiste waterlisensie nie. Daarna is die verlate myn met reënwater gevul waarin die twee seuns verdrink het.

Ongerehabiliteerde myne besoedel inwoners se water, aangesien mynafval wat aan die elemente blootgestel word, die suurgehalte van water en grond ingrypend kan verhoog.

Bekend as suurmyndreinering, kan dit water onbruikbaar en die grond onproduktief laat en munisipale infrastruktuur wat vir waterlewering gebruik word, korrodeer.

Dit het reeds in Carolina in die Albert Luthuli-plaaslike munisipaliteit gebeur waar 'n ondersoek bewys het dat die munisipale infrastruktuur ineenstort as gevolg van die suurmyndreinering.

Die Hooggeregshof het in 2012 die munisipaliteit opdrag gegee om stappe te neem om die krisis aan te pak, maar tot op hede is niks gedoen nie.

Die VF Plus gaan die Blou Skerpioene versoek om verdere ondersoek hieroor te doen en op te tree waar nodig. Mynaktiwiteite moet in balans met die omgewing plaasvind. Diegene wat die omgewing besoedel, moet die swaarste straf moontlik kry.

Optrede teen die myne was tot dusver meestal administratief van aard en dit is tyd dat strafregtelik teen hulle opgetree word.

Die VF Plus sal aanhou terugslaan om te sorg dat die omgewing en ekostelsels beskerm word.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.