Die VF Plus het tydens ‘n raadsvergadering van die Ekurhuleni-metroraad die metro aangemoedig om nog meer privaat kragopwekking moontlik te maak.
Die versoek kom nadat dit bekend geword het dat die metro ‘n ooreenkoms aangegaan het met private kragverskaffers om fotovoltaïese- (pv) of sonkrag aan Ekurhuleni te verskaf.
Die VF Plus ondersteun die metro se inisiatief en vra dat die potensiaal verder ontgin word om dele van Ekurhuleni, soos Kempton Park, heeltemal onafhanklik van Eskom te maak.
Luidens ‘n verslag wat voor die raad gedien het, kan tot 20 megawatt sonkrag opgewek word met net twee lappies grond van 40 hektaar elk.
Die VF Plus het die burgemeesterskomiteelid belas met energie, mnr. Senzi Sibeko, ook daarop gewys dat Kempton Park oor oop grond beskik gelykstaande aan 1 250 hektaar wat tot 92 500 huishoudings van Eskom se kragnetwerk kan verwyder.
Die gebruik van die ekstra grond vir sonkragopwekking kan tot gevolg hê dat die hele Kempton Park onafhanklik van Eskom kan word.
Indien die ander stukke leë grond in Ekurhuleni in ag geneem word, is die potensiaal enorm om ander dele van die metro ook krag-onafhanklik te maak.
Die VF Plus spoor die metro aan om hierdie projek om eie kragverskaffing moontlik maak, drasties en dringend uit te brei.