Ek wil as leier van die VF Plus namens die party my medelye uitspreek met die naasbestaandes van mnr. Jackson Mtembu wat vandag na verneem word aan Covid-19-verwante oorsake oorlede is.
Die VF Plus se simpatie is ook met die ANC waar mnr. Mthembu ‘n staatmaker en harde werker was. Hy was jare lank hoofsweep van die ANC en in die parlement, waar hy hom baie goed van sy taak gekwyt het.
Op ‘n persoonlike vlak was hy altyd vriendelik en het mense met respek behandel.
Mnr. Mthembu het self verskeie traumatiese voorvalle weens misdaad beleef.
Hy was onder meer slagoffer van ‘n gewapende rooftog waartydens hy etlike kere geskiet is. Hy het dit oorleef en voortgegaan om sy werk te doen.
Mnr. Mthembu was bekend as ‘n aangename persoon en ‘n staatmaker in die ANC en sy afsterwe sal ‘n groot leemte laat.


