Die huidige politieke onstabiliteit in die Metsimaholo-plaaslike munisipaliteit (Sasolburg, Deneysville, Oranjeville) is weereens ‘n bewys dat die ANC/SAKP-koalisieregering geen erns het met die verantwoordelike besteding van openbare fondse en die welstand van inwoners nie.
Dit word bewys deur die feit dat die provinsiale regering, ‘n jaar nadat dié munisipaliteit onder administrasie geplaas is, steeds nie uitvoer gegee het aan die hofuitspraak in verband met die omstrede munisipale bestuurder, Steve Molala, se skorsing nie.
Molala is sedert Augustus 2018 met volle betaling geskors op aanklagte van ernstige finansiële misdrywe. Die hof het in Desember 2019 bevind dat Molala nie prosedureel korrek aangekla is nie en dat hy in sy posisie heraangestel moet word.
Dit is onaanvaarbaar dat die Metsimaholo-munisipale raad eerstens nie reg opgetree het met dié ernstige klagte nie en dat die Vrystaatse regering bykomend hiertoe ‘n jaar gesloer het om in te gryp en teen hierdie hofbevinding appèl aan te teken.
Sedert die aanklag is daar dubbele besteding aan die salarisrekening van ‘n munisipale bestuurder asook ‘n waarnemende munisipale bestuurder en is die administrateur ook deur die provinsiale regering vergoed. Belastingbetalers ontvang egter geen waarde vir hierdie geld nie.
Ten spyte van verslegtende dienslewering onder die Artikel 139-ingryping, het die ANC-regering besluit om dit te verleng en Molala se heraanstelling luidens die hofuitspraak te bekragtig.
Voor die provinsiale ingryping het Metsimaholo slegs 3% van sy voorwaardelike toekennings aan munisipale- en waterinfrastruktuur bestee en in die tydperk onder administrasie is dié fondse ook nie bestee nie.
Metsimaholo se bestaande infrastruktuur stort in duie en hy kan onder geen omstandighede bekostig om enige fondse te verbeur nie.
Dit is onaanvaarbaar dat die Vrystaatse regering se ingryping geen vrugte afwerp nie en dat die ANC-regering nie daartoe in staat is om op provinsiale óf nasionale vlak leiding te gee en in te gryp nie.
Die ANC se intervensiemodel werk nie en die enigste oplossing vir inwoners is om van dié onbevoegde regering ontslae te raak met die plaaslike regeringsverkiesing later vanjaar.
Navrae: 083 226 5936