Die leier van die EFF, Julius Malema, speel met vuur met sy uitsprake en voorgestede plan om op 6 April vanjaar onbesette grond deur lede en ondersteuners van die EFF te laat beset, sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.
Dr. Groenewald sê hierdie uitsprake skep konflik, vertroebel verhoudinge in Suid-Afrika en het die potensiaal van anargie wat Suid-Afrika nie kan bekostig nie.
“Die grondkwessie word deur beide die EFF en die ANC misbruik om steun en aansien onder kiesers te probeer werf.
“Suid-Afrika is ‘n grondwetlike demokrasie waar private grondbesit beskerm word en enige ontneming of onteiening daarvan sal moet plaasvind binne die wetlike raamwerke wat daarvoor gestel is.
“Indien daar met geweld opgetree gaan word om grond te beset, dan moet die EFF en sy ondersteuners daarvan kennis neem dat grondeienaars ook geweld sal gebruik om hul eiendom te beskerm.
“Sou sulke konflikte ontstaan, sal die EFF die volle verantwoordelikheid daarvoor moet aanvaar, en die VF Plus sal Malema persoonlik aanspreeklik hou vir die gevolge wat daaruit mag voortspruit,” sê dr. Groenewald.
Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403