fbpx
Vryheidsfront Plus

Masilonyana-munisipaliteit behoort onder administrasie geplaas te word en skuldige amptenare moet strafregtelik aangekla word

Die Masilonyana-plaaslike munisipaliteit behoort onder administrasie geplaas te word en amptenare wat hulself skuldig gemaak het aan oortreding van die Wet op Munisipale Stelsels en ander wetgewing moet strafregtelik aangekla word, het Koos Pienaar, VF Plus-raadslid gesê.

Pienaar het die stelling na aanleiding van bevindinge deur die Ouditeur-Generaal in die 2015/16 ouditverslag van die Masilonyana-plaaslike munisipaliteit gemaak.

Die verslag bevind onder andere dat die munisipaliteit se laste sy bates oorskry en dat krediteure nie betyds betaal kan word nie en dus kan die munisipaliteit nie meer as ‘n lopende saak funksioneer en sy belangrike diensleweringsverpligtinge nakom nie.

Die Ouditeur-Generaal het ook bevind dat synde die munisipaliteit nie alle tenderdokumente vir oudit kon voorlê nie daar nie bepaal kon word of tenders sonder ongerymdhede toegeken is nie. Konstruksiekontrakte is toegeken aan konstruksiemaatskappye wat nie by die Konstruksiebedryf Ontwikkelingsraad geregistreer is nie en dus nie volgens die wetlike vereistes vir hierdie konstruksiekontrakte kwalifiseer nie. Voorts is tenders toegeken aan verskaffers met botsende belange weens hul indiensname by ander staatsorgane en in teenstelling met die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur.

Verdere bevindings lui dat werknemers van die munisipaliteit wie se nabye familielede persoonlike of besigheidsbelange by toegekende kontrakte gehad het, nagelaat het om hierdie belange te verklaar en het dus strydig met die bepalings van die Wet op Munisipale Stelsels opgetree.

Die VF Plus gaan ‘n forensiese oudit vereis om die beweerde ongerymdhede te bevestig en die skuldiges te identifiseer, waarna strafregtelike klagtes by die SAPD aanhangig gemaak sal word.

Die munisipaliteit behoort onder administrasie geplaas te word aangesien sulke ongerymdhede en sy huidige finansiële posisie dui op die ANC se algehele onvermoë om doeltreffende bestuur in die beste belang van die gemeenskap toe te pas. Die munisipale bestuurder moet aanspreeklik gehou word, aangesien dit sy plig as rekenpligtige amptenaar van die munisipaliteit is om doeltreffende en deursigtige finansiële bestuur te verseker.

 

Kontakbesonderhede: 083 272 8664 / japienaar@milksa.co.za

 

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.