Mnr Jaco Mulder, VF Plus-LPW vir Gauteng is die naweek met ‘n volstrekte meerderheid herkies as die provinsiale leier van die party in Gauteng.
Mulder wat sedert 2004 ‘n lid van die Gauteng Wetgewer is, het die oorwinning behaal teenoor dr. Dan Roodt wat homself ook vir die amp verkiesbaar gestel het.
“Die VF Plus is tans die vierde grootste party in Gauteng en is die enigste party wat veg vir die regte van Afrikaners en ander minderhede in die provinsie,” sê Mulder. Ongeveer die helfte van alle Afrikaners in Suid-Afrika woon in Gauteng en vorm die kern van die teikenmark van die VF Plus in die provinsie.
Die VF Plus is die laaste bastion van Westerse Christelike waardes in die Suid-Afrikaanse partypolitieke stelsel, het Mulder gesê.
Mulder het verder die lede wat verkies is tot die party se dagbestuur in Gauteng as ‘n gebalanseerde en gedugte span beskryf en gesê dat hierdie span ‘n reuse bydrae gaan lewer tot die toekoms van die party en sy steunbasis in die provinsie.
Adv. Anton Alberts (LP) en mnr. Philip van Staden, die streekleier van Pretoria is as onderleiers verkies en me. Amanda de Lange, Qume Erasmus, mnre. Franco de Lange, Piet Uys, Christo Smith, Ben Erasmus, Wiebe Schultz, Johan van Drimmelen, Jaques Blake en Sakkie du Plooy as lede van die dagbestuur.
Die jeugafvaardiging na die dagbestuur bestaan uit Jean Kriek, Awie Erasmus en Johan Breet.
Jaco Mulder, LPW
VF Plus Leier Gauteng
082 466 3786