fbpx
Vryheidsfront Plus

Minister Rob Davies tree roekeloos op met Suid-Afrika se ekonomie

Alhoewel dit op die kaarte was, het Suid-Afrika se opskorting van sy  bilaterale handelsooreenkoms met Duitsland steeds skokgolwe deur die sakewêreld gestuur, en die Vryheidsfront Plus neem met kommer kennis van die kansellering van die verdrag, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor handel en nywerheid.

Suid-Afrika het verlede week stilweg sy ooreenkoms met Duitsland verbreek. Duitsland is een van Suid-Afrika se grootste en belangrikste handelsvennote in die Europese Unie (EU) en die verwikkeling het groot ongelukkigheid onder plaaslike Duitse sakelui veroorsaak.

Die opskorting vorm deel van Suid-Afrika se nuwe beleidsraamwerk rakende beleggings om weg te beweeg van bilaterale ooreenkomste en eerder wetgewing daar te stel om beleggers te beskerm.

Die ontevredenheid onder beleggers is veral omdat daar allerweë aanvaar is dat die nuwe Beskermingswet eers in plek sou wees voordat beleggingsooreenkomste eensydig opgeskort sou word.

Adv. Alberts het op 10 Oktober tydens 'n gesprek met die Duitse ambassadeur, dr. Horst Freitag, eerstehands verneem van Duitse kommer oor die roekelose wyse waarop die ANC-regering omgaan met Duitsland, wat Suid-Afrika se grootste handelsvennoot in die EU is.

Volgens adv. Alberts het dr. Freitag sy kommer oor die situasie uitgespreek en dit reguit gestel dat die ANC riskant optree met belangrike handelsvennote.

“Dit is duidelik dat die ANC dink dat die land se verhouding met die Brics-lande die verliese wat moontlik met die EU gely sal word, sal uitwis. Dit is egter riskant, want die EU is steeds ons grootste handelsvennoot en Duitsland die grootste in die EU.

“Die VF Plus beskou dit ook as gek om die handelsverdrag te kanselleer terwyl die voorgenome Beleggingswet, (die Wetsontwerp op die Bevordering en Beskerming van Beleggers) wat sekuriteit vir beleggers moet skep, nog nie eens voor die parlement gedien het nie.

“Dit beteken dat die EU en Duitsland geen sekerheid het oor beleggings in Suid-Afrika terwyl die Beleggingswet hangende is nie, en dit kan nog jare duur voordat die wet in werking gestel word.

“Dit is minagtend teenoor ons handelsvennote en gewone Suid-Afrikaners wat ekonomies swaar kry. Daarbenewens gaan die nuwe wet moontlik minder beskerming aan beleggers bied as die gekanselleerde verdrae. Niemand weet nog wat in die wet vervat is nie,” sê adv. Alberts.

Die verwikkeling moet verder gesien word teen die agtergrond van bykomende faktore soos die effek van stakings in onder meer die motorvervaardigingsbedryf, soos onlangs gesien by BMW Suid-Afrika, wat reeds daartoe bydra dat beleggers afgeskrik word.

“Al hierdie faktore, tesame met striemende arbeidswetgewing en die afskrikwaarde van vakbonde, maak dat Suid-Afrika internasionaal al hoe minder as ‘n veilige beleggingskeuse beskou word.

“In die lig hiervan is die regering se optrede teen die EU en Duitsland onverstaanbaar en ‘n klap in die gesig van beleggers. Minister Rob Davies tree roekeloos op met Suid-Afrika se ekonomie, en die land kan dit nie bekostig nie,” sê adv. Alberts.

 

Adv. Anton Alberts

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.