fbpx
Vryheidsfront Plus

VF Plus keer aanstelling van skuldinvorderaar in Masilonyana

Die VF Plus het daarin geslaag om die aanstelling van ‘n skuldinvorderaar in die Masilonyana-plaaslike munisipaliteit (Theunissen, Brandfort, Verkeerdevlei en Winburg) tydelik te keer.

Alhoewel skuldinvordering in Masilonyana nou dringend nodig is om dienste in die munisipaliteit te herstel, is die diensooreenkoms met Phamodzi Revenue and Energy Solutions nie wettig nie. Die ooreenkoms met Pamodzi is deurspek met vrae oor die ooreenkoms en hoe dit belastingbetalers sal raak.

Die VF Plus is gekant teen die feit dat die ooreenkoms vir ‘n termyn van sestig maande aangegaan is. Ingevolge Artikel 33 van die Munisipale Finansiële-Bestuurswet, is daar prosesse wat gevolg moet word indien die kontrak vir langer as drie jaar aangegaan word.

Dit sluit onder meer in dat daar ‘n openbare deelnameproses moet wees en dat beide die nasionale en provinsiale departement van samewerkende regering en tesourie kennis moet neem en insette moet lewer. Daar bestaan geen bewys dat dié voorskriftelike proses gevolg is nie.

Die VF Plus is verder gekant teen die dienskontrak, aangesien Phamodzi 15% kommissie sal verdien op rekeninge wat ouer as net sestig dae is. Die munisipaliteit moet eers verduidelik wat die huidige agterstallige skuld is en ‘n uiteensetting gee van die ouderdom van die skuld voordat daar projeksies gemaak kan word vir kommissie wat betaal moet word.

Daar bestaan ook geen meganismes om te verseker dat effektiewe teikens behaal word en dat die korrekte kommissie oorbetaal word nie.

Die VF Plus sal die voorsitter van die provinsiale openbare rekeningekomitee in die Vrystaatse Wetgewer vra om te ondersoek of die munisipaliteit wel die prosesse gevolg het en die mening van die Vrystaatse tesourie oor hoe die kontrak verkry is.

Masilonyana is sedert September 2019 nie meer onder Artikel 139-administrasie nie en die VF Plus sal wil toesien dat die munisipaliteit nie weer uitgawes aangaan wat nie wetlike prosesse volg nie.

Die invordering van agterstallige skuld is belangrik om te verseker dat dienste in Masilonyana gelewer word, maar die VF Plus wil toesien dat diensverskaffers wettig aangestel word en dat hulle effektief dienste lewer. Die aanstelling van Phamodzi is onwettig en die proses om ‘n skuldinvorderingsdiens aan te stel, moet van voor af begin.

Kontaknommer: 083 272 8664

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.