fbpx
Vryheidsfront Plus

VF Plus-jeug slaan suksesvol terug teen diskriminasie

Na volgehoue druk op sosiale media deur die VF Plus-jeug en nadat die party 'n klag by die Menseregtekommissie aanhangig gemaak het, het YES (Youth Employment Service) Donderdagoggend op Twitter aangekondig dat wit jeugdiges voortaan ook deel van hul werksoek-netwerk kan wees.

Yes4Youth is 'n samewerkings-inisiatief tussen die privaatsektor en die regering om werklose jeugdiges te bemagtig en jeugwerkloosheid hok te slaan. President Cyril Ramaphosa het die inisiatief geloods.

Aanvanklik kon wit jeugdiges nie vir die netwerk registreer nie en was dit slegs toeganklik vir swart-, bruin- en Indiër-persone.

Die netwerk het nou onderneem om jong wit Suid-Afrikaners in aanraking te bring met ondernemings wat bereid is om wit jeugdiges te plaas ongeag die puntevoordele wat dit ingevolge Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) vir hulle sou inhou om eerder Swart, bruin en Indiërs te plaas.

Hoewel die VF Plus nie saamstem met die beginsels van die drakoniese Swart Ekonomiese Bemagtigings (SEB)-wetgewing nie, is die aankondiging deur YES ‘n stap in die regte rigting. Dit is ook ‘n oorwinning vir werklose wit Suid-Afrikaners wat op grond van ras nie toegang tot die arbeidsmark kry nie.

Die VF Plus was in 2014 die enigste party wat teen die wysiging van SEB-wetgewing gestem het.

Die VF Plus-jeug ag dié wetgewing as onbillike diskriminasie, veral teen die "Vrygebore"-generasie wat na 1994 nie meer verantwoordelik gehou kan word vir die ongelykhede in Suid-Afrika nie.

Die VF Plus-jeug oorweeg steeds stappe om te verseker dat alle jong Suid-Afrikaners, veral minderheidsgroepe, gelyke geleenthede gegun word in Suid-Afrika. Die VF Plus slaan terug teen alle vorme van diskriminasie en is van mening dat gelyke geleenthede vir almal moet geld.

Kontaknommer: 082 490 6663

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.