Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus in Zeerust eis optrede teen raadslede wat munisipaliteit in chaos dompel

Die VF Plus in die Ramotshere Moiloa-plaaslike munisipaliteit het in ‘n skrywe aan die speaker, Portia Letshufi, en die munisipale bestuurder, Lekgetlo Mokgatle, geëis dat daar opgetree word teen ʼn faksie in die raad wat daarop uit is om die munisipaliteit te ontwrig.

Hierdie faksie van 14 raadslede bestaande uit ANC-raadslede, sowel as raadslede van ander partye, het op 9 Julie tydens ‘n onreëlmatige vergadering ‘n nuwe “burgemeester ” verkies in ‘n poging om die munisipaliteit te kaap.

Die nuwe “burgemeester”, ene Itumeleng Moarabi het hierop die burgemeesterskantoor beset en ‘n groot groep lyfwagte by die munisipale kantoor in Zeerust ontplooi.

Werknemers is geïntimideer en dienste by die munisipaliteit het bykans tot stilstand gekom. Die ontwrigting van munisipale dienste het tot onrus in die gemeenskap gelei.

Regskoste moes aangegaan word in ‘n poging om ‘n interdik teen Moarabi te bekom.

Dit is ironies dat hierdie gebeure plaasgevind het in ‘n stadium dat die munisipaliteit se finansiële posisie stelselmatig begin verbeter ná jarelange wanbestuur van opeenvolgende ANC-administrasies.

Dit is ook verstommend dat sekere opposisiepartye in die raad aan hierdie onverantwoordelike en onwettige optrede meedoen.

Daar kan nie langer gesloer word met optrede nie en die VF Plus dring daarop aan dat die betrokke raadslede ten volle verantwoordbaar gehou word in terme van die toepaslike munisipale wetgewing.

Die wetgewing maak onder meer daarvoor voorsiening dat raadslede individueel aanspreeklik gehou word vir enige finansiële verliese wat die munisipaliteit gely het weens hul onwettige optrede.

Die VF Plus sal bly stry teen ‘n kultuur van onverantwoordelike wetteloosheid in die munisipaliteit om te verseker dat die inwoners van Zeerust en Groot-Marico die dienste kry waarop hulle geregtig is.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.