Die VF Plus het hom hierdie week tot al drie vlakke van regering gewend om die ANC-beheerde Matlosana-plaaslike munisipaliteit (Hartbeesfontein, Klerksdorp, Orkney, Stilfontein) verantwoordbaar te hou vir die vinnige verslegtende situasie in dié munisipaliteit.
Ingryping in Matlosana is dringend noodsaaklik voordat die agteruitgang van basiese dienslewering en die verval van munisipale infrastruktuur ‘n punt bereik waar dit onomkeerbaar is.
Die VF Plus het reeds op provinsiale vlak die LUR vir plaaslike regering en tradisionele sake (Cogta), Mmoloki Chailwe, versoek om op te tree.
Op nasionale vlak het die VF Plus se parlementslid verantwoordelik vir Cogta (Michal Groenewald) ‘n versoek gerig tot die adjunkminister, Obed Bapela, om die situasie in Matlosana te beredder.
Bapela het die VF Plus die versekering gegee dat hy ‘n verslag sal aanvra oor die stand van sake en het onderneem om met die LUR te vergader om teen aanstaande Maandag die kwessies in Matlosana dringend te behandel.
‘n Versoek van die VF Plus is ook toegestaan dat die munisipaliteit voor die parlementêre portefeuljekomitee vir Cogta gedaag word om rekenskap te gee oor die toedrag van sake.
Die VF Plus se verteenwoordigers op al drie vlakke van regering het ingetree en aangedring op onmiddellike ingryping in Matlosana ná ‘n chaotiese raadsvergardering waar die speaker, Washington Ntozini, onder meer geweier het dat die raad ‘n mosie van wantroue in homself en die teenwoordigheid van die onwettige self-aangestelde burgemeester, Maeto Kgaile, bespreek of daaroor stem.
Matlosana is ‘n ekonomiese kerngebied in Noordwes en die huidige politieke onstabiliteit bedreig nie net die plaaslike ekonomie nie, maar ook dié van die provinsie en die land. Die N12-hoogweg, ‘n nasionale ekonomiese “slagaar”, loop deur die munisipale gebied.
Die verval van die munisipaliteit moet voor die deur van die plaaslike ANC-leierskorps gelê word wat op eie belang fokus eerder as op die behoeftes van die gemeenskap wat hulle moet dien.
ANC-faksiegevegte in die raad lei onafwendbaar tot swak dienslewering, ‘n gebrek van instandhouding of vervanging van infrastruktuur en die gevolglike verval daarvan.
Weens die afwesigheid van nuwe praktiese en volhoubare ontwikkelingsplanne en die gebrekkige uitvoer van bestaande planne, kan die munisipaliteit nie uitvoering gee aan die kernfunksies en verantwoordelikhede van ‘n munisipaliteit nie.
Die VF Plus sal nie toekyk hoe munisipale regerings verder verval nie en sal ‘n aktiewe rol speel om te verseker dat ingrypings en veranderings lei tot beter dienslewering aan inwoners en groter verantwoordbaarheid deur amptenare.
Navrae: 079 409 8342