Die VF Plus in Mpumalanga veroordeel die brandstigting wat die Bongani Mountain Lodge in die Mthethomusha-wildreservaat langs die grens van die Krugerwildtuin verwoes het en het die LUR vir ekonomiese ontwikkeling en toerisme, Vusi Shongwe, gevra om in te gryp om bedreigde wild te verskuif na die veiliger Kruger Nasionale Wildtuin en die beskadigde heining so spoedig moontlik te herstel.
Die reservaat is die tuiste van onder andere Afrika se groot vyf.
Alhoewel die Lodge in private besit is, word die reservaat deur die Mpumalanga-agentskap vir toerisme en parke (MTPA) bestuur en moet verhoed word dat bedreigde spesies in die tydperk gestroop word.
Die brandstigting en vandalisering van die Lodge het plaasgevind na 'n vermeende skietery met veldwagters waarin ‘n stroper doodgeskiet is.
In reaksie hierop het lede van die gemeenskap in ‘n protesaksie die hoofhek en die Lodge afgebrand. Die skade beloop na raming sowat R80 miljoen.
Groot dele van die heining van die wildreservaat is beskadig wat stropery van wild vergemaklik. Die Kaapse buffels in die reservaat is ook natuurlike draers van bek-en-klouseer en hou ‘n gevaar in vir beesboere in die omgewing indien hulle ontsnap.
Die VF Plus verwelkom die inhegtenisneming van drie verdagtes en sal toesien dat die brandstigters en gemeenskapslede wat verantwoordelik is vir die skade, die nodige straf opgelê word.
Navrae: 076 687 2830 / 084 652 9164