Die Vryheidsfront Plus het klagte by die waarnemende hoofdirekteur van omgewingsake, grond en die Groen Skerpioene in Mpumalanga, mev. Pamela Ntuli, ingedien oor aanhoudende en erge rioolstortings in dié provinsie.
Daar is ‘n hele paar gebiede in die provinsie waaroor ernstige kommer oor die mislukking van munisipale infrastruktuur bestaan. Hierdie onbeholpenheid van die munisipaliteite het daartoe gelei dat natuurlike hulpbronne met onbehandelde menslike afval oorspoel word wat 'n langdurige negatiewe impak op die inwoners en die omgewing het.
Bethal: Drie van die rioolpompstasies funksioneer al baie lank nie meer nie. 'n Pomp is in Desember 2019 vir herstelwerk verwyder en tot op datum is dit nog nie herstel of vervang nie. Sedertdien vloei riool in die Blesbokspruit.
Die besoedeling is so erg dat toiletpapier en grys water 12km buite die dorp vanaf ‘n brug oor die spruit sigbaar is.
Mbombela-plaaslike munisipaliteit (Hazyview): Slikdamme is gebou, maar dit keer nie dat groot hoeveelhede afval in die wêreldbekende Sabierivier beland nie.
Lekwa-plaaslike munisipaliteit (Standerton): Nie eens ‘n interdik wat in 2018 in die hooggeregshof teen die Lekwa-munisipaliteit verkry is, kon daarin slaag om die besoedeling stop te sit nie aangesien die infrastruktuur nie behoorlik onderhou of herstel word nie. Groot volumes rioolwater beland as gevolg van hierdie laksheid van die amptenare in die Vaalrivier.
Emalahleni-plaaslike munisipaliteit (Witbank): Verslae dui aan dat baie min van die rioolnetwerke in Witbank en Kriel nog funksioneel is en dat die riool wat in die Olifantsrivier beland, op die lange duur vernietigend op die omgewing sal inwerk. By net een nie-funksionele aanleg, word dit beraam dat ten minste 26 miljoen liter rioolwater per maand in die Olifantsrivier beland, wat sodoende die Witbankdam, Loskopdam en ander damme in die opvangsgebied besoedel.
Hierdie probleem moet dadelik aangespreek word. Die VF Plus glo dat die Groen Skerpioene die nodige ingrypingstrategieë in werking moet stel om hierdie besoedeling teë te werk en om vas te stel hoeveel skade reeds aan natuurlike hulpbronne berokken is.
Die VF Plus gaan druk op die provinsiale ANC-regering plaas om onmiddellik teen hierdie individue op te tree wat hul plig liederlik versuim om infrastruktuur te onderhou en wie se verantwoordelikheid dit is om te verseker dat rioolwater behandel word voordat dit natuurlike hulpbronne besoedel.
Navrae: 084 652 9164 / 076 687 2830


