Die VF Plus in die Gauteng-wetgewer het in dringende skrywes aan die Gautengse LUR’e vir onderwys, Panyaza Lesufi, samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), Lebogang Maile en gesondheid, Jacob Mamabolo, gevra vir onmiddellike ingryping by die Rotora-skool vir gestremde leerlinge in Carletonville wat al vir drie weke sonder elektrisiteit is.
Kabeldiefstal het die skool vanaf 7 September sonder elektrisiteit gelaat en die meisieskoshuis is sedert 24 Augustus in duisternis gehul. Die situasie by die skool het Sondagaand verder versleg toe dele van die sekuriteitsnetwerk gesteel is.
Die VF Plus-raadslid in die Merafong-plaaslike munisipaliteit (Carletonville, Fochville, Wedela) het ook die munisipaliteit se speaker, Elvis Mphithikezi, gevra om dadelik in te gryp en die elektrisiteit by die skool te herstel. Volgens Mphithikezi het die munisipaliteit nie die nodige toerusting om die gesteelde kabels te vervang nie.
Die skool het twee kragopwekkers aangekoop, maar kan weens die hoë bedryfskoste nie die skool, wat 120 leerlinge huisves en die twee koshuise gelyktydig van elektrisiteit voorsien nie. Intussen moet die leerlinge wat spesiale onderrig benodig, versorg word.
Dit is onmenslik om leerlinge, veral kinders wat in koshuise woon en spesiale behoeftes het, sonder elektrisiteit te laat.
Die VF Plus sal druk uitoefen op die Gauteng-regering om dringend in te gryp en sal ook self by die skool besoek aflê om te verseker dat die probleme aangespreek word.
Navrae: 071 604 9498