Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus identifiseer verskeie rooi vlae tydens debat oor Emfuleni-stadsrede

Die VF Plus het verskeie rooi vlae geïdentifiseer in reaksie op die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging) se stadsrede.

Dit is ook goed dat die presidensie die stadsrede en die repliek daarop kon bywoon sodat die nasionale uitvoerende gesag self kan sien in watter krisis Emfuleni verkeer.

Die eerste rooi vlag handel oor ‘n gebrek aan behoorlike munisipale oorsig.

Dit is ‘n skande dat die munisipale oorsigkomitee se voorsitter vanuit die regerende ANC kom en nie soos die gebruik is onder die voorsitterskap van ‘n opposisieparty staan nie.

Die tweede rooi vlag is die feit dat talle senior poste vir lang tye vakant bly en dat junior amptenare moet waarneem in daardie poste.

Dit lei tot ‘n gebrek aan ervaring en strukturele onstabiliteit in die munisipaliteit wat op sy beurt weer bydra tot endemiese swak dienslewering.

Die derde rooi vlag is dat daar nie ‘n behoorlike onderskeid getref word tussen politieke verteenwoordigers en die amptenary nie.

Vorige politici word aangestel as senior amptenare wat beursies beheer en ‘n invloed het op die toekenning van tenders. Op dié wyse gedy ANC-staatskaping heerlik in Emfuleni ten spyte van die munisipaliteit se bankrot status.

Dus is die werklike kwessies in Emfuleni swak bestuur en die plundering van hulpbronne.

Die VF Plus glo dat die inkomste wat deur die munisipaliteit gegenereer word – alhoewel dit aansienlik kan verbeter – tesame met die toelaes wat ontvang word, voldoende is om ‘n bogemiddelde diens op alle gebiede te kan lewer.

Dit is mits die korrekte beheer van dienste aan armlastige huishoudings toegepas word, kontrakte waarde bied vir geld, projekte en aankope verseker word en daar seker gemaak word dat amptenare met die regte toesig en bestuur hul werk produktief en verantwoordelik doen.

Dit is egter onwaarskynlik dat dié gesonde bestuur onder die ANC sal plaasvind.

As voorbeeld kan gekyk word na die wanbestuur van die Sedibeng-distriksrioolskema. Dit is ‘n goedgekeurde projek sedert sy ontstaan in 2002.

Dit is veronderstel om die oplossing vir rioolkwessie in die Vaal te wees omdat dit die probleme holisties aanspreek. Weens politiekery het hierdie projek steeds nie van die grond af gekom nie.

Emfuleni het ongelukkig nou tot só ‘n mate agteruit gegaan dat die munisipaliteit in gebreke met die Grondwet is omdat die mees basiese dienste soos water, sanitasie, vullisverwydering en elektrisiteit, nie behoorlik gelewer word nie.

Die munisipaliteit is gereeld in die nuus weens die oortreding van verskeie wette en tog word daar geen stappe of aksie geneem teen die politieke- of amptelike leierskap nie.

Met riool wat in woonbuurte vloei en ook in nasionale waterbronne, het die kwessie reeds in ‘n nasionale krisis ontaard.

Met Emfuleni wat meer as R500 miljard aan water en elektrisiteit skuld, laat dit die inwoners vreesbevange oor die toekoms.

Die nasionale regering sal hiervan kennis moet neem om ‘n algehele ineenstorting te vermy.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.