‘n Behoorlik funksionerende ekonomie moet volhoubaar en stabiel groei tot voordeel van alle landsburgers. Dit gebeur nie onder die ANC nie.
Dit is belangrik dat ‘n ekonomie inklusief moet wees, ‘n term wat oor die laaste jare ‘n belangrike fokuspunt in Suid-Afrika geword het.
‘n Waarlik inklusiewe ekonomie moet alle inwoners van ‘n land bevoordeel en aan almal die finansiële vryheid bied om geleenthede na te jaag.
Saam met ekonomiese groei moet vervaardiging en dienslewering aanpas om almal te bevoordeel. Dit sluit werksgeleenthede op elke ekonomiese gebied in.
‘n Inklusiewe ekonomie is daarom een van wye deelname wat elke landsburger tot sy of haar voordeel kan najaag.
Tog staan Suid-Afrika se ekonomie voor ‘n morele krisis. Die egosentriese najaging van rykdom van enkeles het ‘n kultuur van selfbevoorregting en uitsluiting geskep.
Dit isoleer mense, vernietig gemeenskappe en skep ongelykhede. So kan ongelykheid en armoede voortduur te midde van ekonomiese oplewing.
Kwesbare groepe word uitgesluit van skole, werk en geleenthede wat hulle die voordele van ekonomiese groei ontsê en selfs vir generasies in ‘n dwangbuis van armoede vasvang.
Die term staatskapitalisme is voorheen gebruik om kommunistiese bedelings van die eertydse Soviët Unie en lande soos Kuba, Sjina en Noord-Korea te beskryf.
Vandag is dit van toepassing op Suid-Afrika waar die ANC-regering onder meer probeer om bankrot staatsinstellings streng onder staatsbeheer te hou.
Sedert die ANC se bewindsoorname in 1994, 28 jaar gelede, is Suid-Afrikaners uitgelewer aan kaderontplooiing, swak regering, staatskaping en korrupsie deur regstellende aksie (RA) en swart ekonomiese bemagtiging. (SEB).
Dit het miljarde in die sakke van ‘n bevoorregte groepie laat beland.
Bankrot staatsinstellings soos Denel, die Poskantoor, Eskom en die SAL het Suid-Afrika se ekonomie op ‘n haar na vernietig.
Die ANC se nalatenskap sal een wees van vernietiging, eiebelang en armoede.
Die oplossing lê in ‘n inklusiewe veelparty-koalisieregering sonder die ANC, gerugsteun deur die private sektor met die gesamentlike doelwit van ‘n vryemarkgerigte ekonomie gegrond op meriete en verantwoording.
Suid-Afrika verdien beter as die ANC.