Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus-hoofkantoor vernoem na voormalige leier dr. Pieter Mulder

Die VF Plus se hoofkantoor in Highveld, Centurion, is die afgelope naweek vernoem na die vorige leier van dié party, dr. Pieter Mulder.

Dr. Mulder was in Maart 1994 betrokke by die stigting van die destydse Vryheidsfront en is verkies tot die eerste voorsitter van die party. Hy het toe ook parlementslid (LP) vir die Vryheidsfront geword nadat hy sedert 1988 LP vir die Konserwatiewe Party (KP) was.

In April 2001 is dr. Mulder verkies tot leier van die Vryheidsfront en hy het in daardie posisie gedien tot November 2016. Hy het as LP gedien tot op 30 November 2017 wat hom in die daardie stadium die deurlopend-langsdienende parlementslid in Suid-Afrika gemaak het.

Benewens die feit dat hy ‘n deurwinterde politikus is, is dr. Mulder ‘n bewese kommunikasiekundige. In 1978, op 26-jarige ouderdom, het hy sy doktorsgraad in kommunikasiekunde verwerf aan die destydse PU vir CHO op Potchefstroom. In 1981 het hy aan die Universiteit van Wisconsin in Madison, Amerika, na-doktorale studie oor internasionale kommunikasie gedoen.

In sy kortstondige akademiese loopbaan wat hy vir die politiek verruil het, is dr. Mulder in 1984 as dosent in kommunikasiekunde aan die PU vir CHO aangestel. Hy is in dieselfde jaar verkies tot vise-president van die Suider-Afrikaanse Kommunikasiekunde-dosentevereniging. In 1985 is hy bevorder tot professor en departementshoof van die departement kommunikasiekunde van dié universiteit.

Oor sy loopbaan in die politiek het dr. Mulder ‘n boek geskryf met die titel ‘Kan Afrikaners toyi-toyi?’ wat kenmerkend is aan sy karakter deur swaar onderwerpe soms ligvoets te klee met humor. Dit word reeds treffend weerspieël in die inleidingsparagraaf van die boek se voorwoord wat soos volg lui:

“Afrikaners skep die indruk dat hulle moeg is vir die politiek en daarmee klaar is. Ek ondervind egter die teendeel. My vrou en kinders wil nie saam met my winkels of Aardklop toe gaan nie, want hulle kla dat “pa vashaak by vreemde mense wat met hom politiek wil praat en dan duur die inkopies soveel langer”.

Dr. Mulder het ‘n passievolle liefde vir sterrekunde, rekenaars, lees en veral die Afrikaner-geskiedenis, en het gereeld gaste op besigtigingstoere deur die parlement geneem.

Deesdae tree hy op as politieke kommentator, maar leef steeds sy liefde vir die geskiedenis uit deur veral groepe jong mense op toere te neem na ‘n plek soos die Voortrekkermonument om sy omvangryke kennis oor die geskiedenis sodoende te deel.

In sy toespraak by die benoemingsplegtigheid van die gebou, het die VF Plus se leier, dr. Pieter Groenewald, hulde gebring aan die politieke versiendheid en werkywer van dr. Mulder.
Hy het gesê die gebou is ‘n tasbare simbool van dr. Mulder se vermoë om vir die toekoms te beplan en die destydse aankoop daarvan was op sy inisiatief. Die gebou is intussen afbetaal en is ‘n stewige bate vir die VF Plus.

Dr. Groenewald het ook staaltjies uit die beginjare van die party vertel om dr. Mulder se werkywer te illustreer. Soos hoe hy gehelp het om self met ‘n leer en tou plakkate lank na middernag op lamppale te hang in verkiesingstye.

Hulde is ook gebring aan dr. Mulder se eggenote, mev. Triena Mulder, wat die stille krag agter dr. Mulder se politieke loopbaan was. Haar ondersteuning van dr. Mulder word veral daardeur beklemtoon dat sy as uitnemende wiskunde-onderwyseres en departementshoof in 1988, alles opgeoffer het om na Schweizer-Reneke te verhuis waar dr. Mulder LV vir dié kiesafdeling geword het.

Kontaknommers: 083 627 4397 / 065 801 7216

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.