Die kerk en politiek kan nie in afsondering funksioneer nie. Saam moet hulle mense omarm en maatskaplik help om so ‘n beter Suid-Afrika te skep,” sê Ben Erasmus, VF Plus raadslid in Tshwane.
Rdl. Erasmus was vyf jaar gelede deel van die span, onderleiding van Philip van Staden (VF Plus lid van die Gautengse Wetgewer) en Cobus van der Linde van Nelco (van Witrivier), wat gehelp het om kos wat deur plaasboere van Witrivier, Mpumalanga geskenk is aan armes in Pretoria-Wes Moot uit te deel.
Die VF Plus leier, dr. Pieter Mulder, het self gehelp om die 24 ton kos wat bestaan het uit vrugte, groente, vleis, eiers en klere van die vier vragmotors af te laai. Dié spesifieke dag het 2 300 mense met groot glimlagte huis toe gegaan. Nog aksies het gevolg en pastoor Erasmus het besluit om aan te hou met dié liefdeswerk in samewerking met die VF Plus.
“Sedert 2010 sorg die Manna-beweging van die Charisma AGS gemeente in Hercules dat behoeftiges elke Sondagaand en Donderdagmiddag ‘n bord kos en ‘n kospakkie huis toe neem. Die VF Plus maak maandeliks ‘n ruim bydrae om die mense te help voed,” sê rdl. Erasmus.
Mense wat kom aanklop vir kos en klere kom uit die hele Moot en is interkerklik. “Ons voorsien kos en klere aan almal wat vir hulp kom aanklop. Mense word ook geestelik bedien”.
Diegene wat bydraes wil lewer, kan gerus vir Freek Kloppers by 071 408 6822 skakel.
Rdl. Ben Erasmus
bennieerasmus@live.co.za
078 1100 114