Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, vertrek môre na Brussel in België waar hy onder meer die organisasie UNPO (Unrepresented Nations & Peoples Organization) sal toespreek oor die ANC-regering se voorneme van onteiening sonder vergoeding.
Die geleentheid is tydens die 26ste presidensie-vergadering van UNPO wat plaasvind op Vrydag 23- en Saterdag 24 Maart.
Dr. Groenewald sal Donderdag (22 Maart) ook die Vlaamse Belang Jeugaksie in Gent toespreek oor plaasmoorde en sal vergrype teen minderhede ook met ander belanghebbendes bespreek.
Dit vorm deel van ‘n deurlopende aksie van die VF Plus om die internasionale gemeenskap oor vergrype in Suid-Afrika in te lig, en is in besonder ook deel van die VF Plus se aksieplan wat aan die begin van vandeesmaand bekend gestel is om die regering se planne om die Grondwet te wysig om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak, stop te sit.
Ingevolge dié aksieplan het die party onderneem om onteiening sonder vergoeding te internasionaliseer deur aktiewe skakeling met die Europese parlement en regerings, die Verenigde Nasies (VN) en deur die VF Plus se lidmaatskap van UNPO.
Dr. Groenewald se komende besoek aan Europa gee uitvoering hieraan. Suid-Afrika is ‘n ondertekenaar van die VN se Verklaring oor Menseregte. Onteiening sonder vergoeding is ‘n oortreding van artikel 17 van hierdie verklaring en die VF Plus sal dit onder die wêreld se aandag bring.
Dr. Groenewald het in Junie verlede jaar UNPO se dertiende algemene vergadering in die Skotse parlement in Edinburgh oor selfbeskikking toegespreek en het gesê selfbeskikking is ‘n internasionaal erkende en aanvaarde beginsel wat aan minderheidsgroepe die reg verleen om hulself teen assimilasie en gevolglike verdwyning in ‘n meerderheid te beskerm.
Hy het gesê selfbeskikking word verskans in die Verenigde Nasies (VN) se Handves en die Internasionale Deklarasie op Burgerlike en Politieke Regte as 'n reg van "alle mense."
Kontaknommers: 083 627 4397 / 065 801 7216