fbpx
Vryheidsfront Plus
Vryheidsfront Plus

Daadwerklike aksiestappe is nodig om land se munisipaliteite te red

Die toestand van Suid-Afrikaanse munisipaliteite behoort tot nasionale krisisstatus verhef te word. Die algehele onvermoë van die ANC-regering om munisipaliteite te bestuur, het daartoe gelei dat plaaslike regerings regoor die land in duie stort tot so ‘n mate dat daar nie in Suid-Afrikaners se mees basiese behoeftes voorsien word nie.

Die land se munisipaliteite het teen 31 Desember 2017 R16.2 miljard en R7.3 miljard onderskeidelik aan Eskom en waterrade geskuld en hoewel die mediumtermynbegroting, waarvan die verdeling van billike aandeel en inkomste ‘n deel vorm, sekere maatreëls in plek stel om die reuse skulde van munisipaliteite aan te spreek, sal dit niks doen om die situasie te verander as daar nie daadwerklike aksiestappe geneem word om munisipaliteite in staat te stel om weer as volhoubare ekonomiese eenhede te funksioneer nie.

Volgens ‘n voorlegging deur Nasionale Tesourie oor die nuwe Verdeling van Inkomstewet (DORA) vir die volgende mediumtermyntydperk tot en met 2021, aanvaar munisipale rade steeds begrotings sonder dat die nodige fondse beskikbaar is om daaraan te voldoen.

Munisipaliteite moet beter opgelei en toegerus word om die begrotings- en finansiële beplanningsprosesse te verstaan. Tans word besluite op politieke meerderhede en sodanige mandate geneem en nie in die beste belang van die gemeenskap van elke munisipaliteit nie.

Kaderontplooiing en massa-aanstelling, soos wat tans in munisipaliteite plaasvind moet stop. Volgens die Nasionale Tesourie sal daar nie fondse wees om aan buitensporige salarisverhogings, wat meer as inflasie beloop, te voldoen nie. Munisipaliteite se salarisrekeninge is te groot en beslaan meestal die grootste gedeelte van hul begrotings. Die personeelkorpse van munisipaliteite moet vaartbelyn gemaak word met kundige en bekwame personeel in noodsaaklike posisies. Personeel moet verantwoordelik en aanspreeklik gehou word vir die kwaliteit van hul werk en moet toegerus word met die nodige hulpbronne en opleiding om hul werk na behore te kan verrig.

Die ANC-regering is veronderstel om te sorg dat daadwerklike stappe geneem word om die land se munisipaliteite om te draai voor dit te laat is, in plaas daarvan om onder ‘n rookskerm die nasionale inkomste op so ‘n wyse te verdeel dat broodnodige fondse vir verdienstelike munisipale-infrastruktuurtoekennings gekanaliseer word na uitgawes soos gratis tersiêre onderrig, wat waansinnig as deel van hul 2019-verkiesingstrategie beloof is.

 

Kontaknommer: 082 674 6670

 

 

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.