Nuwe verwikkelinge om die verkoop van feitlik al Suid-Afrika se oliereserwes in 2015 met die goedkeuring van die land se destydse energieminister, Tina Joemat-Pettersson, wys dit is van nasionale belang dat die saak nou tot op die been oopgevlek word.
Die VF Plus gaan in dié verband ‘n versoek tot die Valke rig, en gaan die Openbare Beskermer (OB) opnuut vra om ondersoek in te stel nadat ‘n vorige versoek van die VF Plus aan die OB (30 Mei 2016) nie eens beantwoord is nie.
Luidens die Business Day (22 Maart 2018) het die Sentrale Energiefonds (SEF) en die Strategiese Brandstoffonds (SBF) nou die Hooggeregshof in Kaapstad genader met ‘n versoek om die verkooptransaksie van die olie onwettig te verklaar en om te keer.
Joemat-Pettersson het die verkoop van 10,3 miljoen vat olie in Desember 2015 goedgekeur in ‘n stadium toe die internasionale olieprys baie laag was ($28 per vat). Teen die huidige wisselkoers sal dit meer as R5 miljard kos om die olie te vervang.
Wat die transaksie verdag maak, is die feit dat Joemat-Pettersson die transaksie gemagtig het sonder die wetlike vereiste van ‘n oop tender (Openbare Finansiële Bestuurswet), en sonder die insae en goedkeuring van die nasionale tesourie, die SEF of die SBF.
In SEF se huidige hofaansoek word die name van Joemat-Pettersson en mnr. Sibusiso Gamede, destydse waarnemende uitvoerende hoof van die SBF, genoem as die twee persone wat ‘sentraal staan’ in wat moontlik een van die grootste gevalle van die stroping van staatsbates nóg nog kan wees.
Die naam van die kopers is ook steeds ‘n geheim. Die VF Plus het op 30 Mei 2016 ‘n aansoek ingevolge die Paia-wet tot die departement van energie gerig om besonderhede rondom die transaksie te bekom.
Die navraag is oënskynlik eers goedgekeur en die VF Plus is gevra om die transaksiefooi vir die navraag te betaal, maar kort daarna het Gamede onder sy eie naam ‘n brief aan die VF Plus geskryf waarin gesê is die inligting bevat ‘handelsgeheime’ en inligting oor ‘derde partye’ wat nie bekend gemaak mag word nie.
Die VF Plus sal die OB nou ook vra om antwoorde te gee oor waarom dié kantoor die saak nooit ondersoek het nie aangesien dit duidelik is dat daar moontlik korrupsie van enorme omvang was.
Die VF Plus sal onverpoos bly soek na die waarheid rondom die geheime transaksie van Joemat-Pettersson en Gumede. Dit is die reg van elke belastingbetaler in die land om te weet wie daarby betrokke was, en wie bevoordeel is.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 065 801 7216