‘n Gesin van ‘n kleinhoewe naby Dannhuasser in KwaZulu-Natal sê hulle leef ‘dag en nag in vrees’ nadat sowat 300 mense van die gemeenskap hul grond onwettig betree het en bokke, skape, hoenders en gereedskap geroof het terwyl twee plaaslike polisiemanne en ‘n ANC-raadslid, bloot gestaan en toekyk het.
Die eienaar van die kleinhoewe, mnr. Leon Ackerman, woon saam met sy vrou en ander familielede, wat kinders insluit, op die grond.
Die situasie is tans baie plofbaar en die gesin word daagliks met die dood gedreig deur mense in die omgewing wat die gesin glo sewe dae kennis gegee het om die grond te verlaat. Vandag is die gesin aangesê dat mense van die omgewing ‘n ‘petisie’ onderteken wat lui dat hulle sewe dae tyd het om hul grond te verlaat.
Die mense het aan hulle gesê die polisie het goedkeuring vir die petisie verleen en dat die ANC in Pietermaritzburg dit ‘wettig’ sal maak.
Volgens die Ackermans het sowat driehonderd mense bewapen met onder meer kieries en kapmesse, hul grond Maandag betree nadat ‘n plaaslike ANC-raadslid (wie se naam bekend is) hulle glo aangehits het om dit te doen.
Mnr. Ackerman het die polisie op Dannhausser gebel en twee polisiebeamptes het opgedaag wat glo saam met die ANC-raadslid bloot gestaan en toekyk het hoe die mense die geboue plunder, meer as vyftig bokke, skape en hoenders roof en toerusting wegdra.
Lede van die polisiekantoor op Dannhausser het daarna glo geweier om ‘n klag te aanvaar en die gesin het die plaaslike veediefstaleenheid om hulp genader. Van die vee is in die week teruggevind en ‘n aantal mense is in hegtenis geneem.
Volgens die Ackermans is die mense later weer vrygelaat, na bewering in opdrag van ‘n senior polisie-offisier van die provinsie.
Die VF Plus het in die week ingegryp deur die plaaslike veiligheidsnetwerke van die boere te aktiveer om die Ackermans te help indien dit nodig sou wees.
Die gesin sal ook bygestaan word om ‘n klag by ‘n ander polisiekantoor in te dien aangesien die polisie op Dannhausser steeds weier om te help, en die leier van die VF Plus, dr. Pieter Groenewald, sal die aangeleentheid op hoogste vlak met die polisie opneem.
Hierdie gebeure onderstreep die onkunde wat tans op grondvlak heers oor die ANC-regering se besluit oor onteiening sonder vergoeding, en die uiters plofbare situasie wat geskep word wanneer hierdie onkunde uitgebuit en aangeblaas word deur opruiende politieke uitsprake.
Kontaknommer: 082 388 3000