Die VF Plus in Gauteng het aangekondig dat die party 'n ondersoek gaan loods na die Departement van Gesondheid in Gauteng.
Hierdie aankondiging volg nadat daar verskeie gevalle van sterftes weens nalatigheid in verskeie staatshospitale die afgelope jaar in die provinsie voorgekom het. Verskeie families het die VF Plus om hulp genader en verskeie verklarings en bewyse is reeds aan die party verskaf.
Die LUR van Gesondheid in Gauteng, Qedani Mahlangu, het gister tydens vraetyd in die Gautengse Wetgewer, skokkende syfers aangekondig wat die VF Plus genoop het om dringend met so 'n ondersoek voort te gaan. As gevolg van nalatigheid is 'n bedrag van R540 miljoen sedert 2010, as skikkings in die hof deur die department betaal. Die departement het ook sedert 2010 nie minder nie as 8 sake buite die hof geskik en 168 hofsake is deur die departement verloor. Die LUR kon nie aandui hoeveel sake die departement gewen het in die tydperk nie maar die vermoede ontstaan dat die getal op nul neerkom.
Die VF Plus se LPW in Gauteng, mnr Philip van Staden, het in reaksie op die jongste gebeure gesê dat verskeie families geliefdes aan die dood afgestaan het in staatshospitale weens nalatigheid en dat iets groot fout is by die departement van gesondheid en die kantoor van die LUR.
"Die media was die afgelope jaar vol van berigte oor nalatigheid by hospitale in Gauteng. Verskeie families het die VF Plus om hulp genader en verskeie bewyse en beëdigde verklarings is reeds by die party se regsafdeling in Gauteng ingehandig. Die syfers wat die LUR gister aangekondig het is 'n duidelike bewys dat dinge nie pluis is nie en daarom dan dat die VF Plus sy eie ondersoek na die betrokke departement gaan loods."
Indien daar families is wat geliefdes aan die dood weens nalatigheid in hospitale afgestaan het en verdere hulp soek, kan hul gerus met die VF Plus in Gauteng kontak maak deur 'n epos te stuur aan help@vfplus.org.za
Philip van Staden
Tel: 0840154722 of 0114985477
epos: Philip@vf.co.za / PvanStaden@gpl.gov.za