Die VF Plus berei tans ‘n aansoek voor aan die Maatskappykommissie om bevindings te maak hoe Eskom en sy direkteure die Maatskappywet verbreek het tydens die talle gevalle van wanbestuur oor die laaste jare wat nou aan die lig gekom het.
Dit word gedoen teen die agtergrond van Eskom se erkenning dat dit nie genoeg steenkool het vir kragopwekking nie.
Kundiges soos die energieskonsultant Ted Blom meen dat sowat R1 300 miljard by Eskom verlore geraak het weens staatskaping en korrupsie oor die laaste jare (Netwerk24, 16 April 2018). Nogtans probeer Eskom nou die nasionale energiereguleerder (Nersa) oorreed om hom toe te laat om ‘n verdere R67 miljard in te samel om operasioneel te bly.
Die VF Plus gaan van die getuienis wat Blom voorgelê het met die parlementêre portefeuljekomitee vir openbare ondernemings se ondersoek na staatskaping, aanwend in sy aansoek.
Blom het onder meer gewys op die massiewe oorbesteding aan kapitaalprojekte by Medupi, Kusile en Ingula. Volgens hom beloop die koste-oorskryding by Medupi R100 miljard, by Kusile R30 miljard en by Ingula R2 miljard.
Die VF Plus sal vra dat die Maatskappykommissie uit die inligting ‘n aansoek aan die Maatskappy-tribunaal sal voorberei om tugstappe teen Eskom te neem, asook om sekere direkteure wat ‘n aandeel gehad het aan die verrotting, onbevoeg te verklaar om as direkteure in enige maatskappy te dien.
Die omvang van die vermorsing oor die laaste paar jaar is eenvoudig verstommend. Nog meer verstommend is die feit dat niemand tot op datum hiervoor verantwoording gedoen het of aangekla is nie.
Eskom vra die belastingbetaler nou om selfs dieper in sy beursie te delf om te stort in hierdie bodemlose put van vermorsing waarin waarskynlik meer as R100 miljard oor die laaste jare verdwyn het.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 065 801 7216