Die VF Plus gaan na aanleiding van die Hlaudi Motsoeneng-aangeleentheid ‘n geskiedkundige klag indien by die kommissie virmaatskappye en intellektuele-eiendomsreg(CIPC), wat ingevolge die maatskappyereg die mag het om enige wanadministrasie in ‘n maatskappy te ondersoek.
Volgens adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor handel en nywerheid, sal die kommissie gevra word om ondersoek in te stel na moontlike onregmatige optrede deur Faith Muthambi, minister van kommunikasie, die SAUK se raad, en sy bedryfshoof, Hlaudi Motsoeneng.
“Sover ons weet is dit die eerste keer dat die kommissie ‘n staatsbeheerde onderneming sal ondersoek. Die kommissie het ook baie meer tande as die Openbare Beskermer (OB) en is by magte om ‘n nakomingskennisgewing uit te reik en om op te tree ingevolge die vereistes van die Maatskappyewet.
“Die klag sal verband hou met die bevindinge van die OB wat bevind het dat die SAUK-raad onreëlmatig opgetree het met die aanstelling van Motsoeneng, dat Motsoeneng self moontlik bedrog gepleeg het met sy aansoek rakende sy kwalifikasies en dat hy hoogs onreëlmatig opgetree het in sy pos as bedryfshoof.
“Ingevolge die Maatskappyewet word ‘n bedryfshoof met Motsoeneng se bevoegdhede ook geag ‘n direkteur te wees en moet hy voldoen aan die fidusiêre-, of vertrouensvereistes wat van ‘n direkteur verwag word.
“Aan die hand daarvan moet die kommissie dus oordeel of hy sy verpligting in die verband nagekom het met die onreëlmatige verhoging van sy eie salaris en die onreëlmatige afdanking van personeel.
“Indien die minister, die Raad en Motsoeneng nie aan sodanige nakomingskennisgewing voldoen nie, is dit ‘n misdryf, en kan hulle strafregtelik vervolg word.
“Die VF Plus wil met hierdie klag ‘n statutêre instansie nader wat werklik tande het en wat in staat is om die betrokke partye te dwing om uitvoering te gee aan die Grondwet se vereistes.
“Die VF Plus sal ook vra dat die kommissie enige moontlike strafregtelike dade sal verwys na die Nasionale Vervolgingsgesag vir ondersoek en vervolging,” sê adv. Alberts.
Adv. Alberts sê hy het self sitting op die parlementêre portefeuljekomitee van handel en nywerheid wat oorsig het oor die kommissie, en hy sal toesien dat die ondersoek deeglik gedoen word en ‘n uitslag oplewer.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403