fbpx
Vryheidsfront Plus

VF Plus gaan bewyse oor SEB se verarming van wittes en bruinmense aan regering voorlê

Die ANC-regering se ‘verstommende uitsprake’ dat Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) nie ‘n enkele wit mens in Suid-Afrika verarm het nie, kan nie langer geduld word nie en die Vryheidsfront Plus het met ‘n aksie begin om bewyse hieroor in te samel en aan die regering voor te lê, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor handel en nywerheid.

Adv. Alberts sê die minister van handel en nywerheid, Rob Davies, se erkenning dat geen navorsing gedoen is oor die onvoorsiene gevolge van SEB soos die moontlike verarming van wittes en bruinmense nie, is ‘skokkend’ gesien in die lig van sy ontkenning dat dit mense nadelig geraak het.

“Dit spreek vanself dat die minister nie gronde het om die uitlatings te maak as geen navorsing daaroor gedoen is nie. Dis duimsuiery en maak ‘n bespotting van die totale wit- en bruingemeenskap van Suid-Afrika wat swaar deur SEB en regstellende aksie getref is.

“Dit is egter nie net Davies wat dit ontken nie. Ook pres. Jacob Zuma het enkele maande gelede in die parlement presies dieselfde stelling gemaak.

“Intussen sien ons daagliks ‘n verarming van wit en bruin wat al op ‘n nasionale krisis afstuur. Tog sluit die ANC steeds sy oë daarvoor.

“Die VF Plus se inligting is dat daar al meer as 460 nedersettings vir hulpbehoewende wittes in die land is waar mense in die grootste ellende leef. Net in die Pretoria-omgewing is sowat 90 daarvan,” sê adv. Alberts.

Volgens adv. Alberts het die VF Plus ‘n webwerf geloods met die naam www.diskriminasie.org.za (www.discrimination.org.za) waar wit en bruin hul wedervarings oor die effek van SEB en regstellende aksie kan deel en 'n petisie teen transformasie kan teken.

“Ons gaan ook na mense in die nedersettings om hul verhale op te teken. Dié inligting gaan aan die president en die minister voorgelê word, asook aan die parlementêre portefeuljekomitees oor handel en nywerheid, en arbeid. Ons gaan hulle dwing om nou aandag te gee aan die probleem sodat almal geleenthede in die ekonomie kan kry.

“Dis ook al wyse waarop die ekonomie sal kan groei. Uitsluiting van minderhede op rasse-grondslag sal daartoe lei dat die ekonomie uiteindelik inplof aangesien die mees geskoolde persone tans steeds uit die groepe kom weens die ANC-regering se swak onderwys.

“Die VF Plus wil hiermee die mite ontbloot dat SEB alle swart mense bemagtig en niemand anders benadeel nie.

“Die teendeel is waar. En dit is dat net ‘n handjievol reeds welvarende swartes op hierdie wyse toegang kry tot die staatskas en die ekonomie en dat dit selfs tot nadeel van die breë swart bevolking strek omdat die ekonomie in geheel daardeur geknou word,” sê adv. Alberts.

 

Adv. Anton Alberts
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.