fbpx
Vryheidsfront Plus

Neut-bedryf in SA beleef bloeitydperk, maar het uitdagings

Die neut-bedryf in Suid-Afrika beleef ‘n bloeitydperk en bied ‘geweldig baie moontlikhede’ vir alle rolspelers aangesien die groeiende vraag na dié produk veel groter is as wat produsente tans kan lewer, sê dr. Pieter Mulder, adjunkminister van landbou, bosbou en visserye.

Dr. Mulder het vandag op die jaarvergadering van die Suid-Afrikaanse Pekanneut Produsente Vereniging op Hartbeesfontein oor die bedryf en landbou in die algemeen in Suid-Afrika gepraat en gesê hoewel die neut-bedryf baie moontlikhede bied, is daar ook uitdagings, veral met die verbouing van pekanneute.

Hy sê ’n statutêre heffing wat deur die departement van landbou ingestel is, was ’n stap in die regte rigting en behoort by te dra tot die verdere ontwikkeling van die bedryf deur die nodige fondse vir navorsing, tegnologie en die implementering van kwaliteit-regulasies daar te stel.

Dit behoort ook ’n bydrae te lewer om die Suid-Afrikaanse produsente te beskerm en die bedryf internasionaal meer mededingend te maak.

Volgens dr. Mulder word die dieetkundige waarde van neute deesdae al hoe meer besef en word neute as ’n belangrike komponent van ’n gesonde, gebalanseerde dieet beskou wat cholesterol verlaag en die gepaardgaande risiko van kardiovaskulêre siektes verminder.

Die Suid-Afrikaanse Hartstigting beveel pekanneute oor die algemeen aan as ’n meer gesonde alternatief. Dit is proteïen- en veselryk en bevat hoë vlakke van minerale soos, kalium, yster, fosfor, kalsium en vitamiene soos, vitamien A, E, B1, B2 en niasien.

“Die neut-bedryf in Suid-Afrika is deurlopend aan die groei en bied opwindende nuwe geleenthede. Suid-Afrika is egter ’n klein rolspeler in die globale neut-bedryf. Daar ’n toenemende vraag na neut-produkte in Suid-Afrika wat baie groter is as ons huidige produksie.

“In 2012 het Suid-Afrika 7000 ton neute ingevoer. Dit bied opsigself baie geleenthede, maar ook vele uitdagings.

“Die vooruitskatting toon dat die pekanneut-subsektor met tussen 20% en 30% per jaar oor die volgende tien jaar gaan groei.

“Die huidige jaar se produksie was swak weens klimaats- en ander faktore. Daar word geskat dat 2014 ’n oes van tot 10 000 Mt (metrieke ton) kan lewer wat dubbel die 2013-oes sal wees.

“Die gemiddelde produksiewaarde vir hierdie jaar gaan sowat R360 miljoen beloop en tussen 90% en 95% van alle pekanneute wat verbou word, word steeds uitgevoer. Die pekanneut-bedryf lewer dus ’n groot bydrae tot Suid-Afrika se uitvoere van landbouprodukte.

“Die belangrike rol van die Suid-Afrikaanse Pekanneut Produsente Vereniging oor die afgelope meer as 20 jaar kan nie misken word nie. Hulle het ’n groot rol gespeel in die feit dat die pekanneut-bedryf volgens my nou volwasse geword het,” sê dr. Mulder.

Dr. Mulder het drie uitdagings aangestip wat die landbousektor in Suid-Afrika tans ervaar.

Dit is dat verkeerde persepsies by sommige oor grond en grondbesit verander moet word, die belangrikheid van voedselsekerheid moet verder gevestig word en veiligheid op plase moet behandel word deur plaasmoorde ’n prioriteitsmisdaad te maak.

 

Dr. Pieter Mulder

Kontaknommers: 082 674 6670 / 083 419 5403

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.