Die suksesvolle regsaksie van Solidariteit teen die department van korrektiewe dienste (DKD) is ‘n oorwinning oor die onbillikheid van regstellende aksie en Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) teenoor minderheidsgroepe soos wit en bruin in Suid-Afrika, sê dr. Pieter Groenewald, die Vryheidsfront Plus se parlementêre leier.
Dr. Groenewald sê die uitspraak is bewys dat die VF Plus nog deurgaans in die kol was met sy veroordeling van die diskriminerende beleid.
“Hierdie uitspraak moet ‘n groot verleentheid vir die ANC-regering wees aangesien dit kom ‘n dag na die uitsprake van dr. Rob Davies, minister van handel en nywerheid, dat SEB nog nie ‘n enkele mens in Suid-Afrika benadeel het nie.
“Die president het op 21 Maart vanjaar in die parlement ook gesê hy weet van ‘geen persoon in Suid-Afrika’ wat al nadelig deur die beleid geraak is nie.
“Die president en die ANC kan net na hierdie uitspraak kyk om die bevestiging te kry dat mense wel daardeur geraak word, dat hulle kanse ontneem word en dat dit hulle kan laat verarm.
“Die regering kan ook daarop let dat Suid-Afrika en die wêreld van die uitspraak sal kennis neem en dat die skadelike uitwerking van SEB voortaan nie meer so ligtelik ontken sal kan word nie.
“Die saak is allerweë beskou as een wat regstellende aksie in die staatsdiens, maar ook in ander sektore, blywend kan verander,” sê dr. Groenewald.
Dr. Groenewald sê die VF Plus sal voortgaan om die onbillike beleid ‘met alle moontlike middele’ te beveg in belang van almal in Suid-Afrika wat daardeur geraak word en dat die party ook enige poging sal steun om dit te doen.
Dr. Pieter Groenewald
Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403