Die Suid-Afrikaanse publiek kan nou met reg bekommerd wees oor SANRAL en die ANC-regering se toekomstige planne met tolpaaie nadat die Vryheidsfront Plus vasgestel het dat twee belangrike artikels se werking onbepaald uitgestel is met die proklamasie van die E-Tolwet.
Adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor vervoer, sê die uitsluiting van die betrokke artikels, 3(b) en (c), beteken effektief dat geen sosio-ekonomiese- en verkeersimpakstudies gedoen hoef te word rakende tolpaaie nie, en dat die publiek ontneem word van die reg om hieroor ingelig te word.
(Sien asseblief die aangehegte kennisgewing).
Artikel 3(b) bepaal dat SANRAL sosio-ekonomiese en verkeersimpakstudies in samewerking met die geaffekteerde plaaslike owerheid en provinsie moet doen. Dit moet dan aan die publiek bekend gemaak word deur ‘n kennisgewing in die Staatskoerant.
Hierdie artikel is deur die VF Plus onderhandel en in die Wet geplaas.
Artikel 3(c) bepaal dat SANRAL aan die minister moet aandui wat die uitkoms van die sosio-ekonomiese en verkeersimpakstudies was, hoe kommentaar van die publiek geakkommodeer is, en watter stappe geneem is om die impak, soos nagevors, te verminder.
Adv. Alberts sê die verwikkeling is ‘uiters kommerwekkend’ aangesien paaie ingevolge die nuwe wet nou getol kan word sonder enige openbare deelname.
“Dit wil voorkom of die ANC-regering en SANRAL probeer om die implementering van sosio-ekonomiese en verkeersimpakstudies te vermy om dit sodoende makliker te maak om e-tol in te stel volgens hul eie diskresie en sonder om verantwoording te doen aan die publiek.
“Veral Kapenaars sal nou nie te gemaklik kan slaap met die beplande N1- en N2-Wynlandtolprojek nie.
“Die oprigting van luukse nuwe kantore van byna R90 miljoen vir SANRAL langs die N1 in Bellville spel die agentskap se planne oor e-tol vir die Kaap duidelik uit.
“Luidens koerantberigte het die agentskap in die Kaap 35 werknemers. Dit beteken byna R3 miljoen per werknemer vir kantoorruimte indien daar nie nou al vir meer personeel voorsiening gemaak word nie.
“Die VF Plus is van mening dat SANRAL vasbeslote is om e-tol in die Kaap in te stel nadat dit nou in Gauteng deurgestoomroller is nieteenstaande hewige teenkanting uit alle oorde,” sê adv. Alberts.
Adv. Anton Alberts
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403