Die VF Plus eis ‘n ondersoek oor ‘n e-pos oor bek-en-klouseer (BKS) wat vermoedelik geskryf is deur landbouminister John Steenhuisen se stafhoof en as “Net vir die grap” – gemerk is.
Die e-pos van die minister van landbou se stafhoof, me. Jana le Roux, wat tans die rondte doen op sosiale media, is gerig aan die direkteur-generaal en adjunk-direkteur-generaal van landbou.
Die inhoud bevat ‘n e-pos van ‘n landbougroep wat interaksie vra rakende die departement van landbou se inentingstrategie teen bek-en-klouseer.
Op die oog af is die e-pos gestuur aan die direkteur-generaal vir landbou, mnr. Ramasodi Mooketsa, en die betrokke adjunk-direkteur-generaal, mnr. Dipepeneneng Serage, met die opmerking: “Attached just receive for some amusement”.
Indien hierdie e-pos eg is, bevestig dit ‘n persepsie dat minister Steenhuisen, sy ministerie en sy departement nie die insette van die landbousektor in hierdie krisis ernstig opneem nie. Inteendeel, dit dui op diepliggende en laakbare minagting.
Die VF Plus eis dat hierdie e-pos ondersoek word en indien dit eg is, daar teen die amptenaar opgetree word. BKS is allermins ‘n grap. Dit is ‘n ramp van enorme omvang.
Dit is egter nie voldoende om van ‘n enkele amptenaar ‘n sondebok te maak nie. ‘n Hele kultuurverandering in die departement is noodsaaklik; iets wat moeilik sal plaasvind sonder dat nog koppe rol.


