Die VF Plus neem die ANC-geleide Mangaung-metro kwalik vir die Lourierparkkrisis wat dié week ontvou met wanordelike besettings.
Die party waarsku lankal reeds dat die metro nie oor die vermoë beskik om hierdie ontwikkeling verantwoordelik te bestuur en te implementeer nie.
Ná die hofuitspraak die afgelope week, dat die voorgestelde ontwikkeling tussen Lourierpark en Bloemdal mag voortgaan, het daar opnuut mense na die gebied gestroom met die hoop op behuising.
Die VF Plus was die enigste party wat teen die toepaslike ruimtelike ontwikkelingsplan, wat hierdie ontwikkeling insluit, gestem het.
In stede daarvan dat die metro eers die nodige infrastruktuur in plek stel en die vereistes soos die hof gestel het en wetgewing bepaal nakom, begin hy erwe uitdeel.
Die VF Plus sal intussen alle nuwe onwettige strukture by owerhede aanmeld.
Die metro beskik nie eens oor die vermoë om basiese dienste te voorsien en te lewer in buurte met bestaande infrastruktuur nie en sal daarom nie hierdie ontwikkeling ordelik kan laat geskied nie.
Dit is ook onafwendbaar dat eiendomswaardes in die gevestigde gebiede soos Pellisier, Bloemdal en Lourierpark, benadeel sal word.
Die VF Plus eis dat Mangaung dienooreenkomstig verligting van eiendomsbelasting vir die gevestigde inwoners moet bied.
Inwoners moet ook by plaaslike veiligheidstrukture betrokke te raak aangesien misdaad geweldig toegeneem het in die gebiede weens die besetting.
Volgens ’n plaaslike buurtwagvoorsitter het misdaad in die omliggende omgewing tot 1500% gestyg vandat hierdie besetting begin het.


