Die VF Plus het ‘n oorsigbesoek gebring aan Bothaville se rioolwatersuiweringsaanleg nadat dit onder die party se aandag gekom het dat die aanleg se chloorstelsel buite werking is.
Talle dorpe in die Vrystaat besoedel tans riviere met ongesuiwerde riool, en Bothaville is geen uitsondering nie. Die wanfunksionele chloorstelsel verhinder dat riool behoorlik gesuiwer word voordat dit in waterbronne beland.
Die VF Plus het reeds in ‘n brief aan die munisipale bestuurder van die Nala-plaaslike munisipaliteit, Scotch Lehloenya, daarop aangedring dat die stelsel dringend herstel moet word.
Die munisipaliteit het voorheen die nasionale departement van water en sanitasie versoek om die stelsel aan te pas sodat chloortablette, wat makliker beskikbaar is, gebruik kan word. Tot op hede is geen daadwerklike stappe geneem om dit te doen nie.
Die VF Plus-wetgewerlid, Armand Cloete, het ook die Vrystaatse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), mnr. T.Z. Mokoena, versoek om dringend in te gryp.
Hierdie gebrek aan basiese instandhouding en beskerming van hulpbronne is ‘n ernstige verontagsaming van inwoners se reg op skoon water.
Die gesondheid en waardigheid van die publiek is nie onderhandelbaar nie. Waterbronne moet beskerm word in belang van alle gemeenskappe.