Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus eis dat minister van binnelandse sake reageer na aanstelling van omstrede advokaat

Die VF Plus eis dat die minister van binnelandse sake, Aaron Motsoaledi, reageer op bewerings dat die omstrede advokaat Seth Ntai (SC) ‘n prominente rol speel binne die departement met die goedkeuring van die minister.

Advokaat Nthai, wat voorheen die LUR vir veiligheid en sekuriteit in Limpopo was, is gedurende Junie 2019 hertoegelaat as advokaat nadat hy in 2013 van die rol vir praktiserende advokate geskrap is. ‘n Ondersoek het bevind dat hy betrokke was by die fasilitering van omkoopgeld ten bedrae van R5 miljoen van ‘n Italiaanse sakeman.

Ná ‘n omstrede beslissing in Mei 2019 in die hooggeregshof in Polokwane is Nthai egter weer toegelaat tot die balie.

Beide die Johannesburgse vereniging vir advokate en die algemene balieraad het reeds verlede maand met ‘n proses begin om teen die hertoelating van Nthai te appelleer.

Nthai is volgens Siya Qoza, woordvoerder van die departement, deur die kantoor van die staatsprokureur aangestel om onder meer die departement, waarvan die regsaanspreeklikheid reeds meer as R2 miljard beloop, in ‘n aantal regsgedinge te verteenwoordig en verskeie regsverwante kwessies binne die departement te herstruktureer.

Die VF Plus is tans besig met ‘n ondersoek na die proses wat binne die departement gevolg is met die aanstelling van Nthai en gaan ook ‘n volledige vraag aan die minister in die parlement oor die aangeleentheid rig.

Navrae: 082 466 3786 / 062 391 1804

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.