Die VF Plus eis antwoorde van die administrateurs van die Tshwane-metroraad oor die geweldige agterstand van uitklaringsyfers wat die koop en verkoop van eiendomme nadelig beïnvloed.
Die party is die afgelope weke deur prokureurs en huiseienaars genader wat nie eiendomstransaksies in ‘n redelike tyd kan afhandel nie. Die VF Plus wil nou by die administrateurs weet hoe hulle die saak gaan beredder.
Die uitreiking van uitklaringsyfers is ‘n eenvoudige proses, maar as dit nie akkuraat en tydig plaasvind nie, lei dit tot groot skade vir alle betrokke partye.
Deur te sloer met die verkoop of koop van ‘n eiendom, veroorsaak dat eiendomsagente nie kommissie ontvang nie en prokureurs en finansiële instellings nie hul verpligtinge kan nakom nie. Sommige huiseienaars maak staat op die verkoop van ‘n eiendom om onder meer ‘n inkomste te genereer om ander verpligtinge na te kom in die onsekere tye.
Die eiendomsmark word benadeel deur die onvermoë van die metroraad om dokumentasie uit te reik wat ‘n direkte gevolg van swak bestuur is.
Die metroraad het onlangs aangekondig dat uitklaringsyfers elektronies gedoen kan word, maar dit is duidelik dat die stelsel misluk het.
Die VF Plus het ’n formele brief gerig aan die hoofadministrateur, Mpho Nawa, asook die waarnemende stadsbestuurder, Masabata Mutlaneng, om die proses te bespoedig.
Die VF Plus wil ook weet wanneer die agterstand ingehaal sal word en hoe lank dit sal duur om ‘n aansoek te verwerk sodat behoorlike terugvoer aan betrokke partye gegee kan word.
Navrae: 072 815 4053