Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus eis antwoorde ná ontwrigtings op N2 en R300 vanoggend

Die VF Plus eis antwoorde ná die ontwrigting van belangrike vervoerroetes vanoggend op die N2 naby Borcherds Quarry en op die R300 in Kaapstad weens ‘n protesoptrede.

Die optrede het ernstige verkeersopeenhopings veroorsaak en duisende motoriste geraak wat gedurende vanoggend se spitsverkeer op pad was na die werk en ander bestemmings.

Daar is ook berig dat rowers die verkeersopeenhopings naby die Borcherds Quarry-afrit uitgebuit het om motoriste te teiken wat weens die ontwrigting in die verkeer vasgekeer was.

Vanoggend se protesoptrede laat ernstige vrae ontstaan oor die vraag of die owerhede oor voldoende intelligensie of vooraf waarskuwings oor die beplande optrede gehad het.

Dit is veral kommerwekkend dat ’n betreklik klein groep mense, soos op ’n foto voor 04:00 vanoggend gesien kan word, daarin kon slaag om twee belangrike vervoerroetes gedurende spitsverkeer te ontwrig.

Daar moet duidelikheid wees oor die vraag of enige voorafinligting beskikbaar was en, indien wel, waarom die nodige voorkomende maatreëls nie getref is nie.

Die N2 is een van Kaapstad se belangrikste hoofvervoerroetes en dra daagliks groot volumes verkeer. Enige versperring van hierdie roete het ’n rimpeleffek op omliggende paaie in die stad en raak pendelaars, ondernemings en nooddienste.

Die mense wat deur hierdie ontwrigting geraak word, is gewone inwoners wat probeer om betyds by die werk uit te kom, hul kinders by die skool af te laai of lughawe toe te reis.

Hoewel artikel 17 van die Grondwet die reg beskerm om vreedsaam en ongewapen byeen te kom, het howe beslis dat hierdie reg nie strek tot die inbraak op die regte van ander, die intimidasie van die publiek of die blokkering van openbare paaie nie.

Die VF Plus doen daarom ’n beroep op die betrokke owerhede om antwoorde te verskaf oor wat vanoggend gebeur het, watter inligting vooraf beskikbaar was en waarom voldoende maatreëls nie ingestel is om die ontwrigting van hierdie belangrike vervoerroete te voorkom nie.

Die stad en sy mense kan nie weer op hierdie wyse gyselaar gehou word deur misdadige optrede nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.