Raadslede se agterstallige skuld, onbillike grondbelasting en ʼn funksionele openbare rekeningekomitee is kritiese elemente wat by die finansiële herstelplan van die Tokologo plaaslike-munisipaliteit (Dealesville, Boshoff en Hertzogville) ingesluit moet word.
Dié munisipaliteit is tans onder artikel 139 (5) (a) en (c)-intervensie wat ʼn ekonomiese herstelplan behels weens jarelange wanbestuur deur die ANC.
Die VF Plus het sy voorstelle die week by nasionale tesourie ingedien as deel van die konsepherstelplan se openbare deelnameproses.
Tans skuld raadslede sowat R390 000 aan agterstallige munisipale skuld. Dit is oneties en onaanvaarbaar.
Om onmiddellik kontantvloei in die munisipaliteit te verbeter stel die VF Plus voor dat hierdie raadslede se skuld dadelik ingevorder moet word.
Raadslede se munisipale rekeninge moet voortaan ook van hul raadstoelaag afgetrek word voordat dit uitbetaal word.
Die munisipaliteit se begrotings vir die afgelope vier jaar was onbefonds, gedeeltelik weens onrealistiese vooruitskattings van die munisipaliteit se inkomste.
Boere van die distrik se grondbelasting word in die huidige finansiële jaar met sowat 400% verhoog.
Die VF Plus beskou die verhoging as onrealisties en onaanvaarbaar en sal die landbougemeenskap, wat reeds sukkel om kop bo water te hou midde beurtkrag en ander striemende faktore, nog verder kniehalter en uiteindelik voedselproduksie bedreig.
Die munisipaliteit se openbare rekeningekomitee is tans wanfunksioneel. Die VF Plus is van mening dat die komitee reeds in die eerste fase van die voorgestelde herstelplan ʼn belangrike rol moet speel om sy oorsigfunksie oor die finansies van die munisipaliteit te vervul.
Die plan sal net suksesvol wees indien daar ʼn politieke wil is om agterstallige Eskomskuld van R208 miljoen en waterskuld van R62 miljoen aan te spreek.
Dringende infrastruktuur-instandhouding is ook nodig in die herstelfase van die voorgestelde plan, met ʼn besondere fokus op swak paaie en water- en sanitasie-aanlegte wat dringend aandag nodig het.
Die realiteit is egter dat ingrypings onder die regerende party eenvoudig nie slaag nie, omdat die ANC nie oor die politieke wil beskik om munisipaliteite om te keer nie.
Uiteindelik kan daar net verandering in Tokologo plaasvind indien daar van die ANC ontslae geraak word.