fbpx
Vryheidsfront Plus

Plaasmoorde wys op gevolge van Malema-uitsprake

Die slagting op plase en kleinhoewes hierdie week waarin ses mense dood is, die jongste daarvan gisteraand by Randfontein, moet geen twyfel laat oor die gevolge van Julius Malema se opruiende uitsprake nie.

Deur aan te hou om sogenaamde “struggle”-liedere te sing en volgelinge op te sweep om boere en wittes te vermoor, gee die leier van die EFF self te kenne dat sy party nie vreedsame oogmerke het nie.

Daar hoef ook nie ’n debat te wees oor die aanname dat Malema se uitsprake telkens ’n bloedbad van onskuldige mense tot gevolg het nie.

ʼn Polisieverslag van 2003 het al bevind dat uitsprake van politici mense aanhits tot geweld en dat dit een van die oorsake vir plaasaanvalle en -moorde is.

Dit word ook keer op keer bewys soos hierdie week ná Malema se sing van die lied “Kill the Boer” verlede Sondag in die FNB-stadion.

In die voorval gisteraand by die Randridge-hoewes is ’n egpaar en hul twee jong seuns van agt en tien aangeval. ‘n AK-47-aanvalsgeweer is glo in die aanval gebruik wat dui op die smokkel van onwettige vuurwapens in die land.

Die man is volgens inligting doodgeskiet en sy vrou ernstig in die rug gewond. Dit is nie bekend of die kinders ook beseer is nie. Die gesin se name is nog nie bekend nie.

Luidens berigte het die gesin omstreeks 20:00 by die huis aangekom waar hulle ‘n vreemdeling op die erf opgemerk het. Die man het glo uit sy bakkie geklim waarna hy geskiet is.

Sy vrou het blykbaar uit die bakkie gespring en is ook geskiet. Sy is na die Milpark-hospitaal gebring.

Die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) beskryf terreur as ‘n georganiseerde, skrikaanjaende daad of veldtog van geweldpleging om ’n politieke doel te bereik; ’n skrikbewind en bedreiging van die veiligheid van iemand of ’n groep deur geweld.

Dit is presies wat Malema met sy uitsprake aanhits en volgens alle aanduiding regkry. Dit hoort in geen beskaafde samelewing geduld te word nie.

Dit is onaanvaarbaar dat die land se howe, instellings soos die MRK en die president van die land plaasaanvalle deur hul swye en versuim om op te tree, indirek kondoneer.

Die VF Plus het verlede jaar daarop gewys dat ʼn stortvloed plaasaanvalle en -moorde gevolg het op ‘n beslissing van die Gelykheidshof (op 25 Augustus) dat “Kill the boer” nie haatspraak is nie.

In ’n mediaverklaring drie jaar gelede, op 1 Julie 2020, het ek onder meer gesê: “Die ongekende vlaag van plaasaanvalle en moorde op boere in Suid-Afrika die afgelope tyd vereis dat die president van die land daarop moet reageer en dit ten sterkste veroordeel.”

Nog niks is veroordeel nie en niemand het opgetree nie. Die aanvalle neem tewens net in felheid toe.

Volgens TLU SA was daar reeds 35 plaasmoorde in die eerste sewe maande vanjaar. Talle mense is ernstig beseer en gemartel. Dit teenoor verlede jaar se 24 moorde in dieselfde tydperk.

Die aangeleentheid is hierdie week selfs in die internasionale kollig geplaas met Elon Musk se twiets. Maar steeds swyg president Cyril Ramaphosa. Dit kan nie so voortduur nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.