Die VF Plus het vandag strafregtelike klagte ingedien teen die voormalige waarnemende munisipale bestuurder van die Phokwane-plaaslike munisipaliteit (Hartswater, Jan Kempdorp, Pampierstat), me. Busisiwe Mgaguli, weens die watertekorte wat die munisipaliteit, veral Hartswater, sedert 8 Februarie ervaar.
Volgens die huidige waarnemende munisipale bestuurder, mnr. Mpho Mojaki, het Mgaguli verlede week die munisipaliteit se bankrekening laat stop of bevries.
Dit het daartoe gelei dat die munisipaliteit nie die nodige chemikalieë vir watersuiwering kon aankoop nie.
Volgens die VF Plus is die optrede van Mgaguli onregmatig en daarom is strafregtelike klagte van bedrog en die oortreding van Artikel 173(5) van die Munisipale Finansiële Bestuurswet ingedien.
Mgaguli is op 13 Desember 2021 met ‘n meerderheidstem op ‘n raadsvergadering uit haar pos ontslaan en Mojaki is as nuwe waarnemende munisipale bestuurder aangestel.
Sy en die ANC-raadslede het geweier om dit te aanvaar, wat tot regsaksie gelei het.
Die laaste gewysigde hofbevel wat die munisipaliteit op 13 Januarie verkry het, verbied Mgaguli om op enige wyse die normale aktiwiteite van die munisipaliteit te ontwrig.
Mgaguli het die bevel verontagsaam en haar optrede het veroorsaak dat watertoevoer na die gemeenskap onderbreek is.
Die hofaansoek van Mgaguli om haar afdanking en die aanstelling van Mojaki in haar plek onwettig te verklaar, word op 17 en 18 Februarie in die hooggeregshof in Kimberley aangehoor.
Die optrede van die ANC in Phokwane is net nog ‘n bewys dat die ANC en sy ontplooide kaders moreel bankkrot is en nie omgee om inwoners te benadeel in hul pogings om die mag te behou en mekaar te beskerm nie.
Die VF Plus sal voortgaan om amptenare en politieke ampsbekleërs tot verantwoording te roep.
Navrae: 072 938 8588