Die VF Plus het vandag ‘n klag by die Menseregtekommissie (MRK) ingedien oor die beweerde behandeling van twee vroulike studente aan die Universiteit van Stellenbosch (US) wat verkeerdelik van sogenaamde ‘blackfacing’ beskuldig is, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor hoër onderwys.
Adv. Alberts sê die klag handel hoofsaaklik oor die US se skending van die studente (Christine Briedenhann en Jo-Anne Cloete) se menswaardigheid in terme van artikel 10 van die Handves van Menseregte, sowel as die inbreukmaking op hul reg tot vryheid van uitdrukking in terme van artikel 16 van die Handves van Menseregte.
Luidens ‘n berig in Rapport (14 Februarie 2016), is die meisies summier tydelik uit hul koshuis geskors, hulle is nie die geleentheid gegun om behoorlik hul kant van die saak te stel nie, hulle is glo aanvanklik regsverteenwoordiging ontsê en hulle is aan ‘n vernederende tugondersoek onderwerp.
Adv. Alberts sê daar moet kennis geneem word van die trauma waaraan twee onskuldige studente onnodiglik onderwerp is wat ‘n blywende indruk op hulle sal maak.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403