Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Openingsrede van premier van die Vrystaat: Sonder nuwe planne

Die premier van die Vrystaat, Ace Magashule, se openingsrede was grootliks ‘n verkiesingstoespraak sonder enige nuwe planne. Hy het gespog met sekere fyn uitgesoekte sogenaamde prestasies van die Vrystaatse regering.

Die VF Plus verwelkom die feit dat die premier aangekondig het dat fiskale dissipline en kostebesparing ‘n belangrike prioriteit vir die regering hierdie jaar gaan wees. Die hoë koste wat vandag se openingsrede behels het, het egter hierdie aankondiging ongedaan gemaak. Die gala-middagete vir 1 200 gaste, tesame met baie ander luukshede, is totaal onaanvaarbaar in die lig van die huidige finansiële krisis.

Die premier beskou onderwys as ‘n belangrike prioriteit en het aangekondig dat die regering toegewyd is om ‘n 90% matriekslaagsyfer hierdie jaar te behaal. Hy noem egter glad nie die feit dat daar ‘n groot aantal skole in die Vrystaat is wat nie hul staatsubsidies en handboeke ontvang nie.

Die premier het ook glad nie konkrete planne aangekondig om kommersiële landbou in die provinsie te midde van die erge droogte te ondersteun nie. Die VF Plus verwelkom wel die feit dat die premier tydens sy toespraak plaasmoorde en –aanvalle sterk veroordeel het.

Die klem van die premier se openingsrede was herverdeling en nie ekonomiese groei nie. Hy het nie nuwe planne aangekondig nie, maar slegs planne wat die afgelope sewe jaar met elke openingsrede herhaal is, genoem.

Die Vrystaat is in ‘n erge krisis wat die ekonomie, werkloosheid, armoede en dienslewering betref. Dit is dus onaanvaarbaar dat die premier op dieselfde trant wil voortgaan, sonder radikale rigtingverandering.

 

Sel: 082 674 6670

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.