fbpx
Vryheidsfront Plus
Vryheidsfront Plus

VF Plus begin veldtog om Openbare Beskermer te beskerm

Dit is in die belang van almal in Suid-Afrika om toe te sien dat die kantoor van die Openbare Beskermer (OB) toegelaat word om sonder inmenging met sy belangrike werk voort te gaan, sê Wouter Wessels, woordvoerder van die VF Plus.

Wessels sê tot nou toe het die OB, tans adv. Thuli Madonsela, gewys sy is bereid om haar werk sonder vrees of vooroordeel uit te voer in ‘n staatsomgewing wat al hoe meer gekenmerk word deur wanadministrasie en korrupsie.

“Die geweldige druk wat vanuit regeringskant op Madonsela geplaas is met die Nkandla-ondersoek, het die VF Plus laat besluit om ‘n veldtog te begin om alle Suid-Afrikaners bewus te maak van die belangrikheid daarvan om die kantoor se onafhanklikheid te verseker.

“‘n Facebook-blad, facebook.com/protectpublicprotector, asook ‘n webblad, www.protectpublicprotector.org.za, is vir die doel geskep. Daar is ook ‘n twitter-rekening, www.twitter.com/Protect_Protect geopen,” sê Wessels.

Hy sê die Openbare Beskermer is een van die instellings wat ingevolge Suid-Afrika se Grondwet uitsluitlik geskep is om die land se grondwetlike demokrasie te beskerm.

Hoofstuk 9.181 (2),(3) en (4) bepaal onder meer:

(2) Hierdie instellings is onafhanklik, en slegs aan die Grondwet en die reg onderworpe, en moet onpartydig wees en hul bevoegdhede en funksies sonder vrees, begunstiging of vooroordeel uitoefen en verrig.

(3) Ander staatsorgane moet hierdie instellings deur middel van wetgewende en ander maatreëls bystaan en beskerm ten einde die onafhanklikheid, onpartydigheid, waardigheid en doeltreffendheid van hierdie instellings te verseker.

(4) Geen persoon of staatsorgaan mag op die funksionering van hierdie instellings inbreuk maak nie.

Wessels sê in die lig van adv. Modonsela se bevestiging dat kabinetsministers en selfs die staatsregsadviseur haar probeer dwing het om die ondersoek na Nkandla te laat vaar – optrede wat op sigself ongrondwetlik is – raak dit duidelik hoe groot die druk op die OB se kantoor is om sy oë te sluit teen ongerymdhede van die staat.

“Dit is die doel van die VF Plus se veldtog om in groot getalle as ‘n nasie aan adv. Madonsela ons steun te toon en haar sodoende die onderskraging te bied om met haar goeie werk voort te gaan.

“Die OB se kantoor is in meer as een opsig een van die publiek se laaste ware skanse teen ‘n regering wat nie bereid is om verantwoording te doen vir sy dade nie. Ondersteun ons in die veldtog. Dit is in die belang van elke regdenkende mens in Suid-Afrika,” sê Wessels.

 

 

Kontaknommers: 082 674 6670 / 083 419 5403

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.