Die VF Plus het vandag ‘n prokureursbrief gestuur aan die stadsbestuurder van die Mangaung-metro-munisipaliteit (Bloemfontein, Dewetsdorp, Soutpan, Van Stadensrus, Wepener), adv. Tankiso Mea, en onder meer geëis dat besonderhede oor oplossings en gebeurlikheidsplanne gegee moet word in verband met die vullisverwyderingskrisis wat tans in die metro ervaar word.
Die metro moet ook aandui wanneer dié planne in werking gestel sal word.
Die party eis verder dat redes vir dié krisis gegee word.
Die munisipale bestuur is versoek om die raad te nader met ‘n voorstel dat inwoners se munisipale rekeninge met vullisverwyderingstariewe gekrediteer word indien daar van private diensverskaffers gebruik gemaak word. Hierdie kontrakteurs is dikwels goedkoper en lewer ‘n weeklikse diens.
Vullisverwydering in die stad is ‘n reuse krisis, omdat dit sporadies of geensins plaasvind nie.
Die vae verskonings hiervoor oor arbeidsonrus, onvoldoende hulpbronne en toerustingtekorte is onaanvaarbaar en moet nou finaal behandel en opgelos word.
Die eens skoon en pragtige Bloemfontein en omliggende dorpe van die Mangaung-metro-munisipaliteit het verval tot ‘n stinkende ashoop wat nie net gesondheidsrisiko’s vir inwoners inhou nie, maar ook die plaaslike ekonomie, vooruitgang van die stad en werkskepping striem.
Die VF Plus plaas deur middel van sy raadslede druk op die munisipale bestuur oor vullisverwydering en ander diensleweringstekorte, maar skroom nie om homself ook tot die hof te wend om toe te sien dat die dienste waarvoor inwoners betaal, wel behoorlik gelewer word nie.
Benewens die feit dat die VF Plus die kwessie intern in die munisipale raad aanvoer en die hof sal nader oor die voortslepende krisis, het die party ook self begin vullis verwyder omdat daar nie toegekyk kan word hoe vullishope op elke straathoek en sirkel in die stad staan en verrot nie.
Inwoners moet opstaan, saamstaan en sterk staan teen munisipale verval in die land en die ANC in die komende verkiesing by die stembus daarvoor straf. Die verval kan gestop word.