'n Verslag van die parlementêre portefeuljekomitee vir minerale hulpbronne en energie, na aanleiding van 'n besoek aan die ru-oliebergingsgeriewe in Saldanhabaai en Milnerton, is vandag in die Nasionale Vergadering gedebatteer. Die VF Plus het verklaar dat die rampspoedige verwaarlosing dalk 'n bedekte seën kan wees.
Die besoek is gebring na die omstrede verkoop van 'n deel van Suid-Afrika se strategiese olievoorraad wat deur 'n hofbevel ongedaan gemaak is. Tydens die besoek kon lede sien dat die reuse olietenks in Saldanhabaai onderbenut word, terwyl dié in Milnerton al langer as 13 jaar leeg staan en verwaarloos. Die grond is selfs aan 'n ontwikkelaar verkoop; 'n transaksie wat ook deur die hof omgekeer is.
Dit blyk uit die verslag dat Suid-Afrika oor die grootste oliebergingsgeriewe in die wêreld beskik. Dit is binne bereik van raffinaderye in die Wes-Kaap en Mpumalanga geleë om die land se brandstofvoorsiening te stabiliseer. Die verslag verwys egter nie uitdruklik na die agteruitgang van Suid-Afrika se vermoë om voltooide brandstofprodukte te vervaardig nie. Berging van ru-olie maak slegs sin indien die vermoë om dit te raffineer, beskikbaar is.
In werklikheid het Suid-Afrikaanse raffinaderye nie met tegnologiese- en kommersiële ontwikkelings tred gehou nie. Om aan hedendaagse standaarde te voldoen en mededingende pryse moontlik te maak, voer brandstofmaatskappye elke jaar 'n groter breukdeel van hul voorraad in voltooide vorm in. Raffinaderye wat onklaar raak of selfs afbrand, soos die Engen-aanleg in Durban, word nie herstel of weer in bedryf gestel nie.
Die inhoud van die verslag is redelik neerdrukkend. Dit mag egter 'n bedekte seën wees. Dit word al hoe duideliker dat die toekoms van vervoer nie in fossielbrandstowwe lê nie. Grootskaalse belegging in geriewe om ru-olie te berg en verwerk, sou die land in die energieverlede kon opsluit.
Die oorgang na elektriese vervoer deur hernubare bronne aangedryf, mag in Suid-Afrika deur beskikbaarheid, nie bekostigbaarheid of klimaatteikens nie, afgedwing word.